Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings se Louw ligter as verwag gestraf
Elrigh Louw word deur JP du Preez vasgevat in die tweede Pro14-derby tussen die Cheetahs en die Southern Kings.Foto: Gallo Images

Die Southern Kings se agtsteman Elrigh Louw kan hom gelukkig ag dat hy Maandagaand saam met die res van sy spanmaats op die vliegtuig na Ierland kon klim vir hul Pro14-toer van twee weke.

Hy sal egter die Kings se eerste wedstryd, Vrydag teen Munster in Limerick, weens ’n skorsing misloop.

Hy sal wel verkiesbaar wees vir die tweede toerwedstryd teen die Scarlets op 23 Februarie in Llanelli.

Louw is Maandag deur ’n tugkomitee van die Pro14-reeks vir ’n week geskors ná sy hoogvat op die Cheetahs se plaasvervangerflank Daniel Maartens in die 66ste minuut van die spanne se tweede derby in Bloemfontein.

Die skeidsregter in dié wedstryd, Divan Uys, het in oorleg met sy assistente en televisie-skeidsregter gevoel Louw verdien niks meer as ’n geelkaart nie.

Geoordeel aan vroeëre wedstryde dié seisoen in Europa sou ’n soortgelyke oortreding ’n rooikaart gewees het en sou Louw ’n minimum van drie weke geskors gewees het.

Die stut Pieter Scholtz toer ook saam, maar sal vanweë ’n vroeëre skorsing ook net eers in die tweede wedstryd kan speel. Dit volg nadat hy ’n speler van Edinburgh in ’n stormlopie met die elmboog in die gesig getref het.

Die Kings se toergroep van 27 spelers sluit twee groentjies in.

Hulle is die losvoorspeler Luyolo Dapula, wat in die SuperSport-uitdaagreeks vir die Vrystaat XV-tal gespeel het, en die veelsydige agterspeler Edmund Ludik.

Die 22-jarige vleuel Josiah Twum-Boafo, wat sy buiging vir die Kings in Oktober gemaak het, is terug in die groep nadat hy die laaste paar wedstryde nie die 23-tal gehaal het nie.

Die senter Tertius Kruger se naam is nie in die toergroep nie.

Hy het herstel van ’n operasie aan sy hand ná ’n spinnekopbyt. Hy is nog tot aan die einde van die Pro14-seisoen by die Kings gekontrakteer.

* Kings se toergroep: Voorspelers: Alandré van Rooyen, Aston Fortuin, Bobby de Wee, Elrigh Louw, Ignatius Prinsloo, Jacques du Toit, JC Astle, Jerry Sexton, Lusanda Badiyana, Luyolo Dapula, Pieter Scholtz, Rossouw de Klerk, Ruaan Lerm, Schalk Ferreira, Thembelani Bholi, Xandre Vos. Agterspelers: Andell Loubser, Christopher Hollis, Courtney Winnaar, Demetri Catrakilis, Edmund Ludik, Erich Cronje, Howard Mnisi, Josh Allderman, Josiah Twum-Boafo, Sibusiso Sithole, Stefan Ungerer.

Meer oor:  Pro14  |  Cheetahs  |  Kings  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.