Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die Kings se ‘pes’ terug op sy pos
Chris Cloete in aksie vir die Kings vroeër vanjaar.Foto: THEO JEPHTA

Chris Cloete is slaggereed om weer ’n pes by die afbreekpunte vir die Southern Kings in volgende jaar se Superrugby-reeks te wees.

Cloete het saam met die belowende CJ Velleman vanjaar uitmuntend vertoon, al het hulle in ’n sukkelende span gespeel.

Toe dié twee spelers gedurende die seisoen beseer is, is hul afwesigheid beslis gevoel.

Daarom was Deon Davids, die Kings se hoofafrigter, Woensdag in sy noppies om te kon aankondig dat Cloete weer vir die Kings beskikbaar sal wees.

Velleman het verlede seisoen al ’n kontrak onderteken om weer in die Baai te speel, maar daar was twyfel oor Cloete se beskikbaarheid.

“Cloete is ’n fantastiese speler. Ek is verheug dat hy weer vir ons in aksie sal wees,” het Davids gesê.

Nog ’n flank wat vanjaar sy stempel vir die Kings afgedruk het, Stefan Willemse, sal ook weer vir die Kings speel.

Willemse het die afgelope Curriebeker-seisoen vir die Westelike Provinsie uitgedraf.

Die flank Andisa Ntsila van die SWD-Arende, wat ook ’n paar keer vir die Kings gespeel het, is ook weer gekontrakteer.

“Om CJ se leemte te probeer vul, het ons ook Onke Dubase van Grens genooi om hom op ’n proefgrondslag by ons in die Baai aan te sluit,” het Davids gesê.

Die losskakel Lionel Cronjé kan op sy beurt ’n sleutelspeler vir die Kings word.

Hy het Superrugby-ervaring by die Haaie, Stormers en die Brumbies opgedoen.

Davids het bevestig dat Louis Fouche nie – soos vroeër berig is – hom weer by die Kings sal aansluit nie.

Cronjé sal in hierdie stadium met Pieter-Steyn de Wet en die jong Garrick Mattheus vir die nommertien-trui meeding.

Masixole Banda het vanjaar vir die Bulldogs uitgeblink.Foto: GALLO IMAGES

Masixole Banda van Grens, wat onlangs as die Eersteliga-reeks se Speler van die Jaar gekies is, kan hom ook op ’n proefgrondslag op losskakel of heelagter by die Kings inspeel.

Davids het ook gesê Christiaan de Bruin (agtsteman, OP-Kings), Johan Steyn (skrumskakel, Arende), Ntabeni Dukisa (veelsydige agterspeler, tot onlangs by Griekwas) en Luzuko Vulindlu (senter, Arende) is gekontrakteer.

Nog ’n Bulldog, die vleuel/senter Makazole Mapimpi, is ook op ’n proefgrondslag by die Kings.

Die Kings trek van Donderdag af al saam.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.