Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings-spelers gaan kaptein help kies
Die bebaarde slot JC Astle behoort weer een van die Kings se leiers te wees. Foto: Gallo Images
Die veteraanvoorryman Schalk Ferreira kan vanjaar weer ’n belangrike rol by die Kings speel. Foto: Gallo Images

Die Southern Kings sal teen die einde van die week ’n beter idee hê van wie die span in die komende Pro14-seisoen op die veld gaan lei.

“Daar is ’n paar voor die hand liggende leiers in die groep soos JC (Astle), Stefan Ungerer, Sarel (Pretorius), Schalk Ferreira en Bobby de Wee, maar ons gaan as ’n groep besluit watter vyf tot sewe spelers die spanleiers gaan wees,” sê Robbi Kempson, die Kings se waarnemende afrigter.

Dis dan ook een van die hoofsake waaroor daar gedurende die volgende paar dae by die Fish River Sun buite Port Alfred, waar die Kings ’n spanbousessie gaan hê, gesels word.

Astle en Ferreira het die Kings al in die verlede aangevoer, maar Kempson voel sterk daaroor dat die huidige groep spelers ’n inset oor die leierskap moet hê.

“Die spelers se stem is baie belangrik. Ek wil hulle betrokke kry en ’n omgewing skep waarin hulle hulself kan uitdruk,” sê Kempson.

Die afrigters sal dan na die gekose groep leiers kyk en besluit wie die kaptein vir ’n spesifieke wedstryd moet wees.

Volgens die breier sal ’n ervare leier soos die Ierse slot-aanwins Jerry Sexton dalk eers later in ’n leiersrol aangewend word. Sexton het verlede seisoen die Jersey Reds, ’n Engelse klubspan, aangevoer.

“Jerry is nou maar eers omtrent ’n maand by ons en vind nog sy voete,” verduidelik Kempson.

Volgens Kempson sal die Kings vir eers met die groep spelers wat hulle het, moet klaarkom.

Ons is weliswaar ’n bietjie dun gesaai wat ervare spelers betref, maar ons het beslis goeie jonger spelers en dis ook belangrik met die oog op die toekoms.
Robbi Kempson

“Ons is weliswaar ’n bietjie dun gesaai wat ervare spelers betref, maar ons het beslis goeie jonger spelers en dis ook belangrik met die oog op die toekoms,” sê Kempson.

“Ons is veral in ’n posisie soos op haker bra yl, maar gelukkig het Jacques du Toit (voorheen van die Cheetahs) ook nou by ons begin oefen.”

Benewens Du Toit het die Kings net vir Alandré van Rooyen en Tango Balekile wat hulle op haker kan kies.

Daar is ook net twee spesialisvleuels (Yaw Penxe en Christian Ambadiang), maar van die senters of heelagters kan darem ook in dié posisie uithelp.

Kings-groep

Stutte: Alulutho Tshakweni, Schalk Ferreira, Cameron Dawson, Xandre Vos, Pieter Scholtz, Lupumlo Mguca, Rossouw de Klerk en Ig Prinsloo. Hakers: Alandré van Rooyen, Tango Balekile en Jacques du Toit. Slotte: Jerry Sexton, Aston Fortuin, Schalk Oelofse, JC Astle en Elrigh Louw. Losvoorspelers: CJ Vellemann, Bakkies Brown, Lusanda Badiyana, Thembelani Bholi, Bobby de Wee, Tienie Burger en Ruaan Lerm. Skrumskakels: Stefan Ungerer, Sarel Pretorius, Josh Alderman en Gavin Mills. Losskakels: Demetri Catrakilis, Bader Pretorius en Siya Masuku. Senters: JT Jackson, Howard Mnisi, Tertius Kruger, Sibusiso Sithole en Erich Cronjé. Vleuels: Yaw Penxe en Christian Amadiang. Heelagters: Courtney Winnaar, Masixole Banda, Michael Botha en Andell Loubscher.

Meer oor:  Jc Astle  |  Schalk Ferreira  |  Port Elizabeth  |  Southern Kings  |  Kaptein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.