Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings kies oud-Haai as bedryfshoof

Dit is steeds ’n raaisel wie die Southern Kings aanstaande seisoen gaan afrig, maar die franchise het darem al ’n nuwe bedryfshoof en van die span se talentvolste spelers is weer gekontrakteer.

Leigh Heard, wat voorheen 22 jaar lank in verskeie poste by die Haaie werksaam was, neem by Charl Crous as die Kings se bedryfshoof oor.

Leigh Heard
Leigh Heard, die Kings se nuwe bedryfshoof. Foto: Verskaf

Crous sal voortaan vir Pro14 Rugby in Ierland as operasionale hoof werk.

Heard was al die Haaie se bedryfshoof en hoof van finansies.

Sedert 2015 het sy as konsultant gewerk, ook soms vir die Kings. 

Die flank CJ Velleman (24) en die haker Tango Balekile (23) sal intussen albei vir nog drie seisoene vir die Kings beskikbaar wees en die vleuel Yaw Penxe (22) vir twee.

Nog ’n speler, die 28-jarige veelsydige agterspeler Sibusiso Sithole, het besluit om vir nog ’n jaar in Port Elizabeth aan te bly.

Al vier hierdie spelers het hul debuut in Super- of Pro14-rugby gemaak met Deon Davids aan die stuur as hoof-afrigter.

CJ Velleman
Die flank CJ Velleman het onderneem om vir nog drie seisoene vir die Kings te speel. Foto: Gallo Images

Dis in hierdie stadium steeds onduidelik of Davids by die Kings gaan aanbly of nie. Hy onderhandel tans met die franchise se base oor sy toekoms.

Robbi Kempson, die Kings se hoë prestasie bestuurder, sê in ’n verklaring dat die kontraktering van Velleman, Penxe, Balekile en Sithole deel is van die “opwindende groep” wat die Kings “vir die toekoms bou”.

“Hulle is spelers van gehalte wat bewys het hulle is die Kings-trui waardig,” sê Kempson.

Hy het ook gesê dat onderhandelinge met verskeie ander spelers ook aan die gang is om hul kontrakte met die Kings te hernu.

Die werwing van nuwe spelers en personeel is ook “steeds aan die gang” met aankondigings wat mettertyd gedoen sal word.

Dis in hierdie stadium onseker presies hoeveel spelers die Kings reeds op hul boeke het want die franchise het nog nie ’n vollege lys bekend gemaak nie.

Verskeie ander spelers, soos die heelagter Ulrich Beyers en skrumskakel Sarel Pretorius, het steeds kontrakte by die Kings en is sover bekend steeds deel van die planne vorentoe.

Dit geld moontlik ook manne soos die ervare voorryman Schalk Ferreira, die slotte JC Astle en Bobby de Wee. Die losskakel Coutney Winnaar het hom reeds ’n klompie weke gelede van die Haaie by die Kings aangesluit as deel van die nuwe groep.

Meer oor:  Bedryfshoof  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.