Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings stryd teen beste Ospreys gespaar

Die Southern Kings kan effens rustiger asemhaal met die wete dat die Ospreys nie hierdie naweek ál hul Wêreldbeker-spelers teen hulle op die veld sal hê nie.

Die kans is maar skraal dat die Walliese kaptein Alun Wyn-Jones Saterdag vir die Ospreys teen die Kings sal speel. Foto: Getty Images

Die Kings pak die Ospreys Saterdag in die Liberty-stadion in Swansea, Wallis, in ’n Pro14-wedstryd.

Die Ospreys het agt spelers – insluitend die een slot en kaptein, Alun Wyn Jones – in Wallis se WB-groep gehad.

Die ander sewe was Justin Tupiric (flank), George North (vleuel), Owen Watkin (senter), Adam Beard (slot), Nicky Smith (stut), Bradley Davies (slot) en Aled Davies (skrumskakel).

Van hulle sal dalk net Aled en Brad Davies en Smith teen die Kings in aksie wees.

Hulle drie het nie veel speelkans in Japan gekry nie en Allen Clarke, die Ospreys se breier, kan dalk besluit om sy span met hulle te versterk.

Die res sal dalk selfs eers in Desember hul terugkeer vir die Ospreys maak.

Die Ospreys begin egter ook volgende week met hul aanslag in die Europese Kampioenebeker-reeks en Clarke kan dalk besluit om nog ’n paar WB-spelers los te laat.

Tom Botha, ’n voormalige stut van die Kings en die Cheetahs, behoort wel in die Ospreys se span vir hul kragmeting met die Oos-Kapenaars te wees. Foto: Gallo Images

Twee ander Ospreys wat vir ander spanne in die WB-toernooi gespeel het, die Tongaanse voorryman Ma’afu Fia en die Namibiese senter/vleuel Lesley Klim, het reeds verlede week teen Connacht as plaasvervangers teruggekeer.

Volgens die Ospreys se webwerf het die span ’n lang lys beseerdes, wat die gewese Cheetah-skrumskakel Shaun Venter en toetslosskakel Gareth Anscombe insluit.

Die span kon egter steeds verlede week vyf spelers met toetservaring in sy beginspan teen Connacht kies.

Die Kings sal ook kennis neem dat een van hul voormalige spanmaats, die knap vaskopstut Tom Botha, die Walliese span se vaste skrums anker.

Die Ospreys kon egter hierdie seisoen sover net een van hul vyf wedstryde in die Pro14-reeks wen.

Verlede naweek se nederlaag van 10-20 teen Connacht het die span seergemaak.

Dit was darem nie so ’n groot pak slae as wat die Kings by die Glasgow Warriors (50-0) gekry het nie.

Meer oor:  Ospreys  |  Pro14  |  Kings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.