Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings-vleuel help behoeftiges

As daar een speler van die Southern Kings is wat nie kan wag om homself op die rugbyveld te bewys nie, is dit die sterk vleuel Christian Ambadiang.

Christian Ambadiang, jong en belowende vleuel van die Southern Kings. Foto: Southern Kings

Die 21-jarige het verlede seisoen van Kaapstad, waar hy as een van die Westelike Provinsie se belowendste junior agterspelers beskou is, na Port Elizabeth en die Kings geskuif.

Ambadiang het egter ’n ernstige kniebesering in een van die Kings se opwarmwedstryde teen Namibië opgedoen.

Die besering was erg genoeg om hom uit al die span se Pro14-wedstryde te hou voor die seisoen deur die Covid-19-pandemie onderbreek is.

Nog ’n belowende jong speler, Josiah Twum-Boafo, asook die blitsige Yaw Penxe het boonop ook met beserings gesukkel.

Dit het meegebring dat die Kings senters soos Christopher Hollis en Erich Cronjé op vleuel moes gebruik.

Robbi Kempson, die Kings se waarnemende hoofafrigter, is egter vol vertroue dat Ambadiang weer sal kan speel wanneer die seisoen iewers vorentoe hervat word.

Ambadiang is self optimisties oor sy kanse om na die speelveld terug te keer.

“Ek moet sê, ek is beïndruk deur die vordering wat ek gemaak het en met die werk wat ek insit. Ek wag nou maar geduldig om weer saam met my spanmaats op die veld te wees,” sê die fris vleuel.

Hy bevind hom tans nog in die Wes-Kaap, maar sal na die Oos-Kaap terugkeer sodra die inperkingsmaatreëls dit toelaat.

Ambadiang is in Kameroen gebore en het daar tot sy 11de jaar in moeilike omstandighede grootgeword.

Hy het by sy ma gewoon en dit het finansieel maar broekskeur gegaan.

Sy pa het hom uiteindelik na Suid-Afrika laat kom en hoewel dinge in sekere opsigte verbeter het, was dit steeds ’n moeilike paadjie om te loop.

Elke bietjie help en maak ’n groot verskil in die lewens van diegene wat behoeftig is.

Daardie agtergrond het dit vir Ambadiang maklik gemaak om gedurende die inperking by die armer gemeenskappe betrokke te raak.

Hy en van sy familie en vriende deel gereeld kospakkies in die Paarl-gebied aan behoeftige mense uit.

“Ek het tyd gemaak om ook om my te kyk en die impak van die inperking op die gemeenskap om my waar te neem. Dit het my gedryf om te probeer help waar ek kan,” sê Ambadiang.

“Ek is altyd gewillig om te help, grootliks omdat ek weet hoe dit voel om onder arm omstandighede te lewe en nie die basiese behoeftes te kan bekostig nie.

“Ek weet goed hoe frustrerend dit vir sommige ouers is om net kos op die tafel te probeer kry sodat hul kinders kan eet.”

Hy moedig ander sportmense aan om ook armer gemeenskappe te besoek en op die een of ander wyse ’n bydrae te probeer maak.

“Elke bietjie help en maak ’n groot verskil in die lewens van diegene wat behoeftig is,” sê hy.

Meer oor:  Behoeftiges  |  Kings  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.