Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings wag in spanning vir Saru-antwoord
Charl Crous / Foto: Michael Green

Dit hang van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) af of die Southern Kings in die eerste week van November – soos hulle wil – met hul voorseisoense oefening begin, het Charl Crous, die Kings se bedryfshoof, gesê.

“Ons het reeds ’n voorlegging aan SA Rugby gedoen oor die begroting wat ons graag sal wil hê en oor die planne wat ons vir die seisoen het, soos die vriendskaplike wedstryde wat beplan word, ensovoorts,” het Crous gesê.

“ ’n Aantal spelers is reeds geïdentifiseer wat potensieel beskikbaar is om gekontrakteer te word. Die afrigters (Deon Davids en Barend Pieterse) het ’n vloeibare lys spelers wat gekontrakteer of by ander unies geleen kan word.”

Die ideaal is om minstens 40 tot 45 spelers te kontrakteer. Crous wou nie geldsake bespreek nie, maar as na die ander franchises se begrotings gekyk word, kort die Kings tussen 30 tot 40 miljoen rand om ’n mededingende span wat darem, ’n paar hoëprofiel-spelers insluit, bymekaar te kry.

Tans het die Kings net agt spelers op hul boeke. Hulle is die skrumskakel James Hall, losskakel Louis Fouché, heelagter/vleuel Malcolm Jaer, senter/vleuel Siyanda Grey, losvoorspelers Vleis Engelbrecht, Thembelani Bholi en CJ Velleman en die slot/flank Tyler Paul.

Crous wou glad nie betrokke raak by bespiegelinge oor watter spelers dalk by ander unies geleen kan word of gekontrakteer kan word nie.

Sampie Mastriet kan dalk volgende jaar vir die Southern Kings speel. Foto: FELIX DLANGAMANDLA

Dis egter ou nuus dat Davids graag Blitsbokke soos Cecil Afrika en Rosko Specman sal wil inhark.

Verskeie spelers wat in die afgelope Curriebeker-reeks vir die OP-Kings gespeel het, verskyn ook op die lys.

Weer wou Crous hom nie oor name uitlaat nie, maar daar kan aangeneem word manne soos die veelsydige voorryman Justin Forwood, haker Martin Bezuidenhout, vleuel Sampie Mastriet en skrumskakel Ricky Schroeder verskyn op die breiers se wenslysie.

Schroeder het weliswaar nie altyd die beste oordeel aan die dag gelê nie, maar sy kapteinskap was baie werd vir die span. Hy het ’n groot rol daarin gespeel om die spelers gemotiveerd te hou.

“Elke dag wat ons wag vir die groenlig van SA Rugby om voort te gaan met ons kontraktering, is ’n dag meer waarin ons spelers kan verloor,” het Crous gesê.

“In ons verslag aan SA Rugby het ons dit duidelik gemaak dat ons nie weer kan bekostig om so laat weg te spring soos die afgelope seisoen nie.”

Meer oor:  Op-Kings  |  Southern Kings  |  Kings  |  Saru
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.