Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kings wil Bok-haker Bongi met R10 m. lok
Bongi Mbonambi se vurige spel sal baie deur die Stormers gemis word indien hy ’n reuse-aanbod van die Southern Kings aanvaar. Foto: Gallo Images

Gaan ’n aanbod wat meer as R2 miljoen minder is as die Southern Kings s’n genoeg wees om die Springbok-haker Bongi Mbonambi te oortuig om aanstaande jaar nog vir die Stormers Superrugby te speel?

Dit is die tergende vraag wat rugbybase in die Westelike Provinsie tans laat sweet, met Mbonambi wat eersdaags ’n besluit oor sy toekoms moet neem.

Netwerk24 het betroubaar verneem dat Mbonambi meer as R10 miljoen vir twee en ’n half seisoene aangebied word om hom by die Kings aan te sluit. As hy by die Stormers bly, sal hy nagenoeg R8 miljoen oor dieselfde tydperk verdien.

“Ek en Bongi vergader Saterdagoggend in Pretoria om daaroor te praat. Hy wil graag in Suid-Afrika bly vir die Britse en Ierse Leeus se toer in 2021,” het Mbonambi se agent, Gert Andries van der Merwe, Donderdag aan Netwerk24 gesê.

Ek en Bongi vergader Saterdagoggend in Pretoria om daaroor te praat. Hy wil graag in Suid-Afrika bly vir die Britse en Ierse Leeus se toer in 2021.
Gert Andries van der Merwe

“Die Kings het ’n baie goeie aanbod gemaak. Die Stormers se aanbod is nie ewe groot nie.”

Terwyl die aanbod van die Kings uit ’n finansiële oogpunt meer lonend vir Mbonambi sal wees – tensy die WP sy aanbod verhoog – sal dié haker dit waarskynlik ook teen ander faktore opweeg.

Benewens die feit dat hy in die Moederstad ingeburger is, is dit ’n ope vraag hoe mededingend die Kings, gegewe hul gebrek aan spelers van gehalte, in die Pro14-reeks sal wees. Om in ’n span te speel wat so gereeld soos die Kings slae kry, kan sy reputasie as Suid-Afrika se beste haker naas Malcolm Marx skade berokken en daarmee saam ook sy toekomstige markwaarde laat kwyn.

Om ’n bielie van ’n baldraer soos Juarno Augustus aan die Goue Leeus af te staan sal vir die Westelike Provinsie ’n bitter pil wees om te sluk. Foto: Gallo Images

Vir die WP sal dit ’n yslike terugslag wees om vir Mbonambi te verloor. Scarra Ntubeni speel goeie rugby in die Curriebeker-reeks en kry welverdiend Saterdag ’n kans in die Bok-trui, maar dis slegs omdat Mbonambi en Marx ’n blaaskans kry. Mbonambi is ongetwyfeld die voorste haker in die Kaap en om hom te verloor sal ook ’n enorme invloed op die Stormers se diepte hê.

Intussen voer die WP ook ’n stryd om Juarno Augustus te oortuig om ’n nuwe kontrak met hom te sluit. Die Goue Leeus maak glo op dié talentvolle jong agtsteman jag.

Die WP het reeds vir Sikhumbuzo Notshe aan die Haaie afgestaan en om nóg ’n agtsteman te verloor, sal uiteraard ’n terugslag wees.

Op ’n meer positiewe noot vir die Kaapse unie is die terugkeer van die talentvolle vleuel Leolin Zas, wat tans by die Haaie is, glo nou ’n uitgemaakte saak.

Meer oor:  Juarno Augustus  |  Bongi Mbonambi  |  Port Elizabeth  |  Kontrak  |  Southern Kings  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.