Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kitshoff: Bok-pak kán Hane verniel

As die Springbokke met die regte ingesteldheid opdaag, behoort hulle nie probleme te hê om die Franse agttal in Junie se toetsreeks te tem nie.

Só sê Steven Kitshoff, wat die naweek ’n gesamentlike kontrak van twee en ’n half jaar met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie en Westelike Provinsie gesluit het.

Steven Kitshoff meen hy het by die Franse klub Bordeaux-Begles as ’n baldraer verbeter. Foto: Getty Images

Die 25-jarige Kitshoff verlaat sy klub, Bordeaux-Begles, ná afloop van die Franse seisoen.

“Die Franse kan ’n goeie pak voorspelers kies – ’n beweeglike een of een wat sterk in die vaste fasette is – so dit gaan interessant wees. Ek dink wel dat ons hulle stukkend kan skrum en maal as ons sielkundig opdaag,” sê Kitshoff in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24.

“Daar is baie goeie stutte in Frankryk, maar hulle is in terme van werkverrigting nie die fluksste spelers nie.”

Kitshoff keer terug Suid-Afrika toe met die droom om weer die Groen-en-Goud te dra. Hy het nog nie 30 toetse vir die Bokke gespeel nie, so sou eers in 2019 – in die Wêreldbeker-jaar – weer beskikbaar gewees het indien hy nie sy nuwe kontrak gesluit het nie.

Al 10 sy toetse verlede jaar was as plaasvervanger en indien hy gekies word, sien hy uit daarna om meer in tandem met Tendai Mtawarira te speel.

“Ek het al baie by Beast geleer en dit sal heerlik wees om die nr.1-trui met hom te kan deel. Ek sien baie uit na die volgende paar jaar. Die feit dat ek terugkeer Kaap toe het die besluit soveel makliker gemaak.”

Die ouens sal hul kant bring en Bok-rugby op die regte koers kry.

Kitshoff is ondanks die Bokke se rekord van agt nederlae in 12 wedstryde verlede jaar optimisties oor wat hulle in 2017 kan vermag.

“Die spelers het mekaar oor die laaste jaar leer ken. Dit gaan in vanjaar se Super-reeks goed met van ons spanne en die ouens speel lekker rugby. Ek dink dit gaan ’n goeie seisoen wees. Die ouens sal hul kant bring en Bok-rugby op die regte koers kry,” sê hy.

Kitshoff meen hy keer as ’n beter speler en meer volwasse mens terug. Hy is veral naby aan sy pa, Steven sr., maar moes in Frankryk saam met sy verloofde, Aimee Steenkamp, buite sy gemaksone op sy eie voete staan.

“Ek het baie gebaat by die afrigting wat ek hier gekry het en om elke naweek teen ’n ander stut te speel as wat ek gewoond was in Superrugby,” sê hy.

“Om in Frankryk saam met Aimee te wees, was ook ’n belewenis. Ek het nie meer vir Hilton (Houghton, sy agent) en my ouers naby aan my gehad nie, so moes dinge self uitsorteer. Ek het as speler en mens gegroei.”

Terwyl Kitshoff veral aan sy verwoestende skrumwerk geken word, het hy in Frankryk ook hard aan ander aspekte van sy spel geskaaf.

“Een van die dinge waarop ek gefokus het, was om meer dikwels my hande op die bal te kry en een van die hoof-baldraers in die span te word,” sê hy.

“Op die verdediging was my doelwit om in algemene spel groot duikslae te maak en omkeerbesit af te dwing. Ek het die bal dikwels gedra en my kant op die verdediging gebring, so glo dit het vir my uitgewerk.”

Meer oor:  Frankryk  |  Bokke  |  Steven Kitshoff  |  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.