Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kitshoff is Stormers se spilpunt
Steven Kitshoff se terugkeer sal die Stormers aansienlik meer gedug maak vir Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld in Pretoria. Foto: Gallo Images

Toe die “Devils Peak Dassies” en “Boulders Beach Penguins” mekaar op 19 September op Nuweland gepak het, was daar één speler in daardie interne Stormers-wedstryd wat gelyk het asof die staat van inperking geen uitwerking op hom gehad het nie: Steven Kitshoff.

Bo en behalwe sy skrumwerk, was Kitshoff aan die voorpunt met sy kraglopies met die bal – klinkklare bewys dat ’n toegewyde speler selfs ná ’n lang afwesigheid verroes hoef te wees nie.

G’n wonder dan nie dat John Dobson, die Stormers se afrigter, ’n groot sug van verligting geslaak het toe Kitshoff toegelaat is om terug te keer vir Saterdag se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld in Pretoria. Die wêreld se voorste loskopstut sal dit ook doen as kaptein nadat Siya Kolisi ’n dyspierbesering opgedoen het in verlede week se kragmeting met die Pumas in Mbombela.

Kitshoff en Scarra Ntubeni was in kwarantyn gedurende die Pumas-stryd nadat hulle die vorige naweek in kontak was met ’n Leeus-speler wat positief vir die koronavirus getoets is.

“Hy is waarskynlik ons mees invloedryke speler,” sê Dobson oor Kitshoff.

“As jy die afrigters vra wie die ou is wat hulle die graagste terug wil hê en die minste kan bekostig om te verloor, sal ons sy naam noem.

Die uitslae van die Leeus se toetse sal Woensdag eers na Nios gestuur word, wat dit sal ontleed en dan besluit of dié span gesond genoeg is om te kan speel.
John Dobson

“Hy is professioneel in hoe hy oefen en sy skrumwerk en aandag vir detail is puik. Hy is waarskynlik een van die beste spelers, indien nie dié beste nie, wat ek nog afgerig het. Om hom terug te hê, sal vir die span ’n gevoel van sekuriteit gee. Dis werklik goeie nuus vir ons.”

Selfs al is Kitshoff se blootstelling aan oefensessies vandeesweek beperk vanweë die protokolle rondom Covid-19, sal Dobson nie vir ’n oomblik huiwer om hom in sy voorry te kies nie.

Dit was altyd in die groter plan dat Leon Lyons die loskopstut teen die Pumas sou wees, want met Ali Vermaak steeds op die krukkelys, is dit belangrik om reserwekrag vir die pad vorentoe te bou.

Leon Lyons, die jong Stormers-loskopstut.

Lyons het hom skaflik van sy taak gekwyt, maar presies hoe invloedryk Dobson vir Kitshoff ag, is dat hy hom nie eers vervang het in die Stormers se eerste wedstryd teen die Leeus op Nuweland nie.

Of só ’n strategie haalbaar is op die Hoëveld, waar die Kapenaars se longe in die laaste 20 minute gaan brand, is te betwyfel en Lyons sal waarskynlik ’n rol moet speel.

Die interessante ding is dat die Bok-vaskopstut Trevor Nyakane op die Bulle se plaasvervangersbank was vir verlede naweek se oorwinning van 41-14 oor die Haaie.

Om hom in die tweede helfte op te stuur, gee vir die Bulle op ’n kritieke stadium in die wedstryd momentum. Die Stormers moet dus nie verwag om die skrums strykdeur te oorheers nie en sal meer afgeronde rugby moet speel as wat die geval teen die Leeus en Pumas was.

Meer oor:  John Dobson  |  Steven Kitshoff  |  Kaapstad  |  Kaptein  |  Rugby  |  Stormers  |  Stut  |  Unlocked-Reeks  |  Beserings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.