Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kitshoff neem Kolisi se mantel oor

Dis nie nuus wat ondersteuners van die Stormers onkant sou betrap het nie, maar nietemin nou amptelik: Steven Kitshoff is die Kapenaars se nuwe kaptein nadat Siya Kolisi besluit het om hom by die Haaie aan te sluit.

Die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff sal voortaan permanent voor draf wanneer die Stormers en Westelike Provinsie in aksie is. Foto: Gallo Images

Salmaan Moerat, ’n voormalige kaptein van die Junior Springbokke wat mik vir ’n plek in die Springbok-groep vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus, is die onderkaptein. Hy het die Stormers ook in die laaste twee van hul wedstryde in die voorbereidingsreeks aangevoer.

Verdere goeie nuus is dat Kitshoff sy kontrak met die Westelike Provinsie met drie jaar verleng het. Dit volg op die nuwe kontrak wat die Springbok-vaskopstut Frans Malherbe met die Kaapse unie gesluit het.

Kitshoff is goed op pad om ’n ikoniese speler in die WP se moderne geskiedenis te word. Sy buiging in die Stormers se voorry was in 2012 op 19-jarige ouderdom – ’n merkwaardige prestasie gegewe die fisieke vereistes in die voorry. Toe was hy nog ’n skaam tienerseun, maar dis selde dat ’n speler sy stem op die grootste verhoog só vind en dik maak soos hy.

“Steven is ’n speler van wêreldgehalte wat op die kruin van sy loopbaan is en respek by almal in die rugbywêreld afdwing. Om ’n individu van sy kaliber en sterk band met die span as ons talisman te hê, is yslik,” sê John Dobson, die Stormers se afrigter.

Salmaan Moerat, hier teen die Leeus in aksie in die onlangse voorbereidingsreeks, is as die Stormers en WP se onderkaptein aangewys. Foto: Gallo Images

“Sowel Steven as Salmaan is produkte van ons jeugstelsel en vir ons spelers en getroue ondersteuners ’n inspirasie. Hul besluit om by die Stormers aan te bly, is ’n getuigskrif van die goeie ontwikkelingswerk wat oor dekades heen gedoen is. Ons sien uit daarna om op hierdie fondasie te bou.”

Kitshoff se nuwe kontrak volg op dié van Damian Willemse, Scarra Ntubeni, Frans Malherbe, Seabelo Senatla, Neethling Fouché, Sazi Sandi, Leon Lyons, Nama Xaba en Kwenzo Blose. Evan Roos, vroeër ’n leenspeler van die Haaie, en die Springbok-slot Marvin Orie het ook kontrakte met die WP gesluit.

Ebrahim Rasool, voorsitter van die WP se sakevleuel, stel “sleutelrolle” vir Kitshoff en Moerat in die vooruitsig.

“Ons het daarin geslaag om ’n baie sterk groep spelers vir die Reënboogbeker-kompetisie te kontrakteer en om leiers soos Steven en Salmaan te hê vervul ons met meer entoesiasme en optimisme vir die toekoms,” sê hy.

“Albei spelers is trotse produkte van die streek en natuurlike leiers, wat ’n inspirasie is vir diegene om hulle.”

Die WP staal hom wel vir nóg ’n paar groot verliese ná Kolisi. Pieter-Steph du Toit snuffel rond vir geleenthede oorsee, terwyl dit nie sal verbaas nie indien die Bok-haker Bongi Mbonambi hom by die Haaie aansluit. Mbonambi is glo ook in die visier van die Amerikaanse agentskap Roc Nation, wat deur die president van sy sportafdeling, Michael Yormark, ’n belang in die Haaie het.

In Kitshoff en Malherbe het die WP wel daarin geslaag om sy twee grootste presteerders sedert 2019 se Wêreldbeker-toernooi te behou. Kolisi het met beserings gesukkel en sy aandag was dikwels by liefdadigheidswerk en ander kommersiële belange. Du Toit het weens ’n ernstige beenbesering ’n jaar laas gespeel en Mbonambi was selde op sy beste.

Trouens, daar sal nie krokodiltrane wees as die Stormers Mbonambi se dienste vir dié van Malcolm Marx verruil nie, al sal laasgenoemde se koms waarskynlik eers volgende jaar wees.

Meer oor:  Salmaan Moerat  |  Stormers  |  Steven Kitshoff  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.