Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kitshoff, Scarra in isolasie ná C-19-kontak
Die Springbokke Scarra Ntubeni en Steven Kitshoff was in aanraking met iemand wat die koronavirus opgedoen het en kan gevolglik nie Vrydagaand teen die Pumas speel nie. Foto: Gallo Images

Die Covid-19-pandemie het die Stormers van twee van hul voorry-ysters ontneem vir Vrydagaand se Superrugby Unlocked-wedstryd teen die Pumas in Mbombela.

Steven Kitshoff en Scarra Ntubeni was albei in kontak met iemand wat die koronavirus opgedoen het en bevind hulle gevolglik in isolasie. Leon Lyons, ’n 21-jarige groentjie-loskopstut, begin gevolglik in Kitshoff se plek.

Die plaasvervangersbank moet nog gefinaliseer word, maar Chad Solomon behoort die haker en Kwenzo Blose die loskopstut daarop te wees.

Leon Lyons is die Stormers se loskopstut vir Vrydagaand se wedstryd teen die Pumas. Foto: Gallo Images

Lyons was in verlede naweek se wedstryd teen die Leeus op die plaasvervangersbank, maar het nie ’n verskyning op die veld gemaak nie.

John Dobson, die Stormers se afrigter, het darem nog die Springbok-haker Bongi Mbonambi in sy beginspan en gaan hom waarskynlik so lank as moontlik op die veld probeer hou voordat hy hom tot Solomon wend.

Presies hoe groot die slag vir die Stormers se skrumwerk gaan wees sal gesien moet word. Kitshoff is moontlik die wêreld se beste loskopstut en Ntubeni ook ’n Bok-haker. Lyons is ’n onbekende faktor en skrumwerk tel nie onder Solomon se sterkpunte nie.

Die skrums is die Stormers se grootste troef en onder gewone omstandighede ’n kaart wat gespeel kan word om strafskoppe af te dwing, hetsy dit op die aanval of verdediging is.

Dobson het ook besluit om die veteraan-slot Chris van Zyl bo JD Schickerling te kies. Dis ’n rotasie-skuif, maar ’n verrassende een só vroeg in die kompetisie gegewe dat Schickerling en Salmaan Moerat die potensiaal het om in ’n gedugte kombinasie te ontwikkel.

Van Zyl se ervaring kon moontlik ’n rol in dié besluit gespeel het gegewe die leierskap wat die Stormers deur Kitshoff verloor.

Edwill van der Merwe vervang die beseerde Sergeal Petersen in die Stormers se span vir Vrydagaand se wedstryd teen die Pumas in Mbombela. Foto: Gallo Images

Op die vleuel vervang Edwill van der Merwe vir Sergeal Petersen, wat ’n ernstige beenbesering opgedoen het in die oorwinning oor die Leeus.

Jaco Coetzee se naam verskyn onder die tien name as moontlike plaasvervangers en dis belangrik dat hy speelkans begin kry. Hy word op nasionale vlak hoog aangeslaan en het al op Superrugby-vlak gewys tot wat hy in staat is as ’n agtsteman of oopkantflank.

Dobson sê die wedstryd is vir sy span ’n goeie geleentheid om te wys wat hulle uit die Leeus-kragmeting geleer het. Die Stormers se lynstaanspel was swak en die agterspelers het mekaar nie gevind nie.

“Ons sal graag groei en verbetering in sekere aspekte van ons spel wil sien en ’n wegwedstryd in Mbombela sal ’n goeie toets daarvan wees,” sê Dobson in ’n verklaring.

“Daar’s opwindende spelers wat hierdie week na vore tree, so ons sien uit om te sien wat hulle het om te bied.”

Stormers: Warrick Gelant, Edwill van der Merwe, Dan du Plessis, Rikus Pretorius, Leolin Zas, Damian Willemse, Herschel Jantjies, Juarno Augustus, Ernst van Rhyn, Siya Kolisi (k), Chris van Zyl, Salmaan Moerat, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Leon Lyons.

PLAASVERVANGERS (uit): Chad Solomon, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, JD Schickerling, Nama Xaba, Jaco Coetzee, Godlen Masimla, Michal Haznar, Tim Swiel, Tristan Leyds.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.