Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kitshoff te lief vir Bokke om totsiens te sê
Steven Kitshoff se hart lê by die Springbokke en Stormers en hy het geen planne om Suid-Afrika nou te verlaat nie. Foto: Getty Images

Die Springbok-loskopstut Steven Kitshoff sê hy bly nét hier in Suid-Afrika eerder as om ’n opsie uit te oefen om sy plaaslike kontrak op te sê.

Soos elke ander speler in Suid-Afrika kan Kitshoff tot en met 14 Mei die omstrede 21-dae-klousule uitoefen om ’n oorsese kontrak te sluit, sonder dat sy huidige werkgewer eers die geleentheid sal hê om ’n teenaanbod te maak of ’n oordragfooi vir sy dienste te aanvaar.

Vir stutte is daar groot geld oorsee beskikbaar, maar vir die 28-jarige Kitshoff gaan die lewe oor baie meer as net dít.

“My voorste doelwit en prioriteit is om in Suid-Afrika te bly, vir die Stormers te speel en myself reg te hou vir die reeks teen die Britse en Ierse Leeus (in 2021),” sê Kitshoff, wat sedert sy buiging in 2016 al 47 toetse vir die Springbokke gespeel het.

“Ek wil nie dit nie vir myself moeilik maak om gekies te word nie. Ek wil hê die afrigters moet my raaksien. Ek wil hê my teenwoordigheid moet aangevoel word en dat ek als sal gee – en beskikbaar is vir nou, die reeks teen die Leeus en die volgende Wêreldbeker (WB)-toernooi.”

Kitshoff, wat kort voor verlede jaar se WB-toernooi ’n langtermynkontrak gesluit om vir die Stormers te speel, kan steeds nie uitgepraat raak oor sy ervaring by die Bokke en verlede jaar se gebeure in Japan nie.

“Die emosie en passie die laaste paar jaar, hoe ek oor die Bokke voel, speel ’n groot rol daarin dat ek in Suid-Afrika wil bly. Ek wil so lank as moontlik by die Bokke wees,” sê hy.

Terwyl hy nie vir individuele erkenning speel nie, was dit tog vir Kitshoff lekker om vandeesweek te sien dat sy vertonings in die Superreeks hom ’n plek in Sanzaar se Tuis- en Wegspanne van die Dekade besorg het.

“Dis baie nice dat die jare se opoffering en alles wat jy insit, raakgesien word,” sê hy.

Dis egter sy dade in die Groen-en-goud wat die hardste vir Kitshoff praat en hy erken dat hy elke nou en dan nog die hoogtepunte van die Springbokke se grootste oorwinnings die afgelope paar seisoene kyk.

“Ek kry my dikwels voor die TV waar ek hoogtepunte van die Wêreldbeker of ons wedstryd teen die All Blacks in Wellington (in 2018) kyk. Sedert my debuut in 2016 tot nou toe was dit alles vir my ’n ongelooflike ervaring,” sê hy.

“Ek dink baie terug en wil nie hê die gevoel moet ophou nie. Tot jy die dag sê jy’t jou als gegee en genoeg is nou genoeg, wil jy nie hê dit moet ophou nie. Ek wil vir so lank as wat ek kan als gee.”

Kitshoff is ná Siya Kolisi die tweede hoëprofiel-Bok wat nou reeds aangedui het dat hy in Suid-Afrika wil bly eerder as om oorsee te gaan.

Indien daar groot skuiwe kom, behoort dit eers laat aanstaande week amptelik aangekondig te word, maar sover vasgestel kan word, is daar min gerekende Suid-Afrikaanse spelers wat nou oorsese aanbiedinge gaan aanvaar.

Die Stormers het oor Pieter-Steph du Toit naels gekou, maar Netwerk24 het by ’n paar bronne verneem dat Wêreldrugby se Speler van die Jaar se kop vir eers nie oorsee staan nie.

Meer oor:  Stormers  |  Springbokke  |  Steven Kitshoff  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.