Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kiwi loof Toulon-baas ná Savea-tirade

Hy wens meer mense wil so reguit praat soos Mourad Boudjellal, die omstrede baas van die Franse rugbyklub Toulon, skryf die Nieu-Seelandse joernalis Duncan Johnstone.

Dit wil voorkom of Johnstone ’n alleenstryd voer in sy verdediging van Boudjellal se skreiende aanval op die voormalige All Black-vleuel Julian Savea.

Julian Savea het onder fel kritiek van sy nuwe klub, Toulon, se baas, Mourad Boudjellal, deurgeloop ná ’n swak vertoning teen Agen. Foto: Getty Images

Verskeie huidige en voormalige internasionale rugbysterre, waaronder die oud-Bok-vleuel Bryan Habana en die All Black-losskakel Beauden Barrett, het vir Savea in die bres getree nadat Boudjellal onder meer gesê het hy wil ’n “DNS-toets van Savea sien.”

Boudjellal was boos ná Savea se sukkelvertoning in Toulon se nederlaag met 10-19 teen Agen en het in die openbaar teen dié makro-vleuel uitgevaar.

“Hulle moes hom op die vliegtuig omgeruil het (toe hy hom van die Hurricanes by Toulon aangesluit het),” het Boudjellal gesê.

“As ek hy was, sou ek om verskoning gevra het en terug na my tuisland gegaan het.

“Ek het vir hom gesê hy is van sy kontrak vrygestel en nie meer welkom by Toulon nie. Hy het ’n jaar op sy kontrak oor. Hy kan doen wat hy wil,” het Boudjellal gesê.

Of ek nou welkom is of nie, is ek steeds gekontrakteer deur my span en sal elke week aanhou oefen saam met my broers.
Julian Savea

Savea het intussen getwiet dat hy al die negatiwiteit agter hom plaas.

“Ek benader die week se oefening met ’n positiewe ingesteldheid. Of ek nou welkom is of nie, is ek steeds gekontrakteer deur my span en sal elke week aanhou oefen saam met my broers,” het Savea gesê.

Verskeie rugbyspelers, onder andere Habana, wat ook vir Toulon gespeel het, Jerome Kaino, voormalige flank van die All Blacks, en Thierry Dusautoir, ’n oudkaptein van die Franse Hane, het met bemoedigende boodskappe op sy twiet gereageer.

Die voormalige Wallaby- en Toulon-vleuel Drew Mitchell het getwiet dat Boudjellal mense nie só kan hanteer nie en dat sy uitbarsting ander spelers sal ontmoedig om hulle by Toulon aan te sluit. Hierop het Savea se broer, Ardie, getwiet: “F––n Amen”.

Selfs die Franse senter Mathieu Bastareaud, wat steeds op Toulon se boeke is, het vir Savea in die bres getree met ’n bemoedigende twiet.

Barrett het vandeesweek aan joernaliste in Wellington gesê almal by die Hurricanes steun vir Savea.

Barrett oorweeg sy toekoms ná vanjaar se Wêreldbeker-toernooi en sê sulke uitbarstings in die openbaar deur Boudjellal, sal hom twee keer laat dink voordat hy Toulon as ’n tydelike heenkome oorweeg.

Johnstone het ’n ander siening.

Soms maak die waarheid seer. Is dít so erg, veral in ’n bedryf wat so in die openbare oog soos internasionale sport is?
Duncan Johnstone

“Boudjellal betaal die rekeninge – en dit is groot geld – so hy is geregtig op sy mening,” skryf hy in sy rubriek op Stuff.co.nz.

“Dat hy bereid is om sy mening in die openbaar te lug, moet applous liewer as woede ontketen.”

Johnstone skryf die kritiek op Savea is geregverdig.

“Hy het op ’n tyd as ‘Die Bus’ bekend gestaan, maar speel nou meer soos ’n opgeknapte Mini.”

Hy skryf dat Boudjellal waarskynlik meer gefrustreerd is met homself. As hy sy huiswerk gedoen het, sou hy sien Savea is nie meer die speler wat hy “vir ’n jaar of twee” was nie.

“Boudjellal betaal goed en verwag van sy spelers om vertonings daarvolgens te lewer.

“As hulle dit nie doen nie, sê hy wat hy dink en tree daarvolgens op.

“Soms maak die waarheid seer. Is dít so erg, veral in ’n bedryf wat so in die openbare oog soos internasionale sport is?

“Klaarblyklik is dit vir sekere opgepiepte spelers.” – Stuff.co.nz

Meer oor:  Toulon  |  Julian Savea  |  Mourad Boudjellal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.