Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kiwi's kompas kwyt toe McCaw uittree

Die Nieu-Seelander Paul Cully skryf in ’n rubriek dat die All Blacks “hulle kompas verloor het” met die uittrede van die inspirerende voormalige kaptein Richie McCaw.

Richie McCaw was die All Blacks se kompas, meen die Nieu-Seelander Paul Cully. Foto: Getty Images

Cully wys in sy meningstuk op stuff.co.nz op die feit dat nege All Blacks met geel- of rooikaarte gestraf is, uitgewys is of amptelike waarskuwings ontvang het vir hoogvatte of kontak met die kop sedert McCaw uitgetree het.

In die laaste twee jaar van sy kapteinskap was daar net een.

“Dit is byna (soveel kaarte soos spelers in) ’n beginspan. En Kieran Read (die huidige kaptein) tel onder hulle,” sê Cully.

Die All Black-hulpafrigter Ian Foster het Woensdag gesê sy span “kom nie weg met moord” op die rugbyveld nie.

Daar is sedert Saterdag se eerste toets tussen Nieu-Seeland en Frankryk baie gepraat oor die voorval waar die Hane-vleuel Rémy Grosso dubbele skedelbreuk opgedoen het.

Sy besering is veroorsaak deur ’n gesamentlike duikslag deur Sam Cane en Ofa Tu’ungafasi. In die voorval het Cane se arm en Tu’ungafasi se skouer oomblikke uitmekaar met Grosso se kop kontak gemaak. Albei spelers het skotvry daarvan afgekom.

“Die argument kan gemaak word dat die groot toename in strawwe aan Wêreldrugby se streng optrede teen hoogvatte toegeskryf kan word,” sê Cully.

“Natuurlik. Maar die interessante ding is hoe spanne daarop reageer het.

“Ierland, byvoorbeeld, het vier geelkaarte in 2017 en ’n geel- en rooikaart in 2016 vir hoogvatte ontvang. Met ander woorde, intelligente, gedissiplineerde spanne het gesien wat aangaan en hul gedrag sodoende aangepas.

“Die All Blacks het egter voortgegaan asof niks gebeur het nie.”

McCaw was ’n taai man wat boonop die reëls oortree het. Maar hy was altyd ’n kompas wat die All Blacks in ’n komplekse, geweldadige spel op koers gehou het.

Cully besing McCaw se deugde as ’n meester om klein reëlveranderinge onder die knie te kry en sy spanmaats op die regte manier te beïnvloed.

“Die meesterlike wyse waarop McCaw die spel gelees het is een van die redes waarom hy hier en oorsee bemin was,” sê Cully.

“Phil Kearns (voormalige Aussie-haker) verduidelik in McCaw se biofilm Chasing Great hoewel die Aussies hom gehaat het, het hulle hom gerespekteer vir die feit dat hy ‘daarmee weggekom het’.

“Dit is die verskil tussen die McCaw-span en die huidige een. Die rugbywêreld is nie kwaad omdat iemand te lank by die losskrum rondhang nie, maar omdat koppe gestamp word.

“McCaw was ’n taai man wat boonop die reëls oortree het. Maar hy was altyd ’n kompas wat die All Blacks in ’n komplekse, geweldadige spel op koers gehou het.”

* All Blacks met kaarte, uitwysings of waarskuwings vir hoogvatte sedert McCaw se uittrede:

2016: Joe Moody (geel), Codie Taylor (geel), Malakai Fekitoa (geel), Sam Cane (uitgewys en toe onskuldig bevind).

2017: Sonny Bill Williams (rooi), Jerome Kaino (geel), Kieran Read (geel), Patrick Tuipulotu (uitgewys en toe onskuldig bevind).

2018: Ofa Tu’ungafasi (waarskuwing).

– Sportredaksie

Meer oor:  Richie Mccaw  |  Toetsrugby  |  Wêreldrugby  |  Vuilspel  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.