Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kiwi’s sê aikôna vir SA ‘All Blacks’ se haka

Die regte All Blacks het voet neergesit en die rugbyspan van die Walter Sisulu-Universiteit (WSU) versoek om die gebruik van sy beroemde Maori-oorlogskreet, die haka, te staak.

Die WSU se Varsityskild-span doen die haka voor die begin van hul eerste wedstryd in die reeks. Foto: Varsitycup.co.za

Litha Nkula, kaptein van die WSU, het aan varsitycup.co.za verduidelik waarom sy span nie hul weergawe van die haka in die tweede Varsitybeker-bioborrel sal opvoer nie.

Die WSU, met die bynaam die All Blacks, het omstredenheid veroorsaak met sy weergawe van die Kiwi’s se Kapa O Pango-haka voor ’n Varsityskildwedstryd teen die Durban-Universiteit vir Tegnologie op Loftus Versfeld in April.

Die WSU se haka:

Daar was diegene wat dit as “oneerbiedig”, “in swak smaak” en “beledigend teenoor die Maori-gemeenskap” beskryf het, terwyl ander gevra het waarom die WSU nie van die Suid-Afrikaanse kultuur gebruik maak vir inspirasie nie.

Nkula het later verduidelik hoekom sy span die haka inspan en die WSU het dit vir die res van die reeks se eerste bioborrel voor kragmetings uitgevoer.

Hy het gesê die WSU bewonder die All Blacks se opwindende spelpatroon sedert hul oorwinning in die Wêreldbekertoernooi in 2015.

Die All Blacks se haka:

“Met my aankoms by die WSU het ons ontslape afrigter, Sipho Metula, ons stories vertel oor hoe sy span Nieu-Seelandse spelers as ikone beskou en daaruit inspirasie put,” het hy destyds gesê.

“Dit is nou deel van ons kultuur. Ons verduidelik dit so aan ons nuwe spelers. Dit is hoekom ons voel ons kan nie daarsonder speel nie. Dit is deel van ons spankultuur, al het ons dit by Nieu-Seeland gekry.”

Maar die WSU het die afgelope Sondag voor sy eerste wedstryd in die tweede bioborrel teen Rhodes in die Tuks-stadion, wat hy met 63-10 gewen het, nie sy haka uitgevoer nie.

Nkula sê die besluit om die haka te staak het gekom nadat die universiteit verlede Saterdag ’n brief van die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZR) ontvang het.

“Die NZR het ons gevra om vir eers op te hou om die haka uit te voer,” sê die heelagter.

“Hulle het gesê dalk kan hulle ons help om dit miskien op ’n ander manier te doen, want die Kapa O Panga het diep, betekenisvolle wortels in Nieu-Seeland.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Wsu All Blacks  |  Varsitybeker  |  Wsu  |  Haka  |  Varsityskild  |  All Blacks  |  Litha Nkula
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.