Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kiwi’s wys skop is ‘paspoort’ tot wenrugby

Goeie taktiese skopwerk, eerder as om die bal in die hand te hou, is die paspoort tot wenrugby.

Dís die tendens wat Vlok Cilliers, die Franse nasionale span se skopafrigter, bespeur het in Nieu-Seeland se Aotearoa-reeks, wat die afgelope maand beslis word.

Beauden Barrett sool hier die bal met sy regterstewel in ’n onlangse wedstryd teen die Hurricanes, maar volgens Vlok Cilliers is 40% van sy skoppe sover in die Aotearoa-reeks met die linkervoet gedoen. Foto: Getty Images

Dáár gee die Crusaders die pas aan ná drie rondes se wedstryde aan met 14 ligapunte. Die Blues, op 12 punte, is ook nog onoorwonne.

“Die Blues skop meer as ooit vantevore. Die spanne boaan die puntelys is dié wat die bal meer skop as daarmee hardloop. Die Chiefs is die span wat die bal die meeste in die hand hou op die aanval, en hulle is ook die span wat nog nie ’n wedstryd gewen het nie,” sê Cilliers.

’n Span wat taktiese skopwerk goed onder die knie het, is beter toegerus om rugbywedstryde te wen as een wat baie met die bal in die hand aanval, meen die skopafrigter Vlok CIlliers. Foto: Gallo Images

“Dalk is dit ’n geval van die spanne wat nie die risiko wil loop om strafskoppe by die afbreekpunte af te staan nie. Daar’s meer strafskoppe teen jou as jy die bal dra.”

Cilliers staaf sy punt met verwysing na die All Black-losskakel Beauden Barrett, wat as een van die beste aanvallende spelers ter wêreld beskou word.

“Veertig persent van al sy skoppe is met sy linkervoet, wanneer die Blues van rigting verander. Jy kan duidelik sien dat die Blues hom in ’n sekere rol aanwend. Dis ’n ongelooflike statistiek gegewe dat hy eintlik regs is,” sê Cilliers.

Vir Cilliers, ’n voormalige skopafrigter van die Bulle en Stormers, toon dit ook die waarde van veelsydigheid. Hy meen die Haaie is baie goed toegerus vir doeltreffende taktiese skopwerk, omdat hulle in Curwin Bosch op losskakel ’n regsvoetige skopper het, terwyl Aphelele Fassi sy linkervoet van heelagter af oordeelkundig kan gebruik.

Die feit dat die Haaie in Curwin Bosch (links) en Aphelele Fassi onderskeidelik goeie regs- en linksvoetige skoppers het, is vir hulle van groot waarde, meen Vlok Cilliers. Foto: Gallo Images

“Die Haaie beïndruk my met hul aanvallende skoppe. Ek dink die feit dat hulle met die linker- en regtervoet kan skop, het ’n groot verskil gemaak,” sê Cilliers.

“Die Haaie het deur middel van hul skopwerk drieë geskep. Die groot ding is om die balans te vind tussen wanneer om te hardloop en wanneer om te skop. Die Haaie het dit goed reggekry en spanne dikwels met goeie skoppe onder massiewe druk geplaas.”

Aan die hand van Cilliers se ontleding is dit dus nie toevallig nie dat die Haaie voor die opskorting van die Superreeks vanjaar boaan die algehele puntelys was. Hulle was wel net een ligapunt voor die Brumbies en Crusaders, wat albei ’n wedstryd minder gespeel het.

Meer oor:  Beauden Barrett  |  Kiwi's  |  Springbokke  |  Taktiese Skopwerk  |  Nieu-Seeland  |  Rugby  |  Haaie  |  Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.