Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Klein Ackers sal nie nee sê vir Rose se trui
Ruan Ackermann erken dit gaan hom uit sy gemaksone neem om vir ’n span te speel wat nie deur sy pa afgerig word nie. Foto: Getty Images
Johan Ackermann in 2006 op Twickenham vir die Springbokke teen Engeland in aksie. Sy seun, Ruan, kan dalk eersdaags in ’n Engelse trui uitdraf. Foto: Getty Images

Wanneer Ruan Ackermann in die kristalbal kyk, is die moontlikheid om Engeland op die rugbyveld te verteenwoordig, ’n sterk moontlikheid.

Hy stel dit selfs in die vooruitsig dat hy eendag vir die Rose kan speel teen ’n Springbok-span wat deur sy pa, Johan, afgerig word.

Dié 24-jarige losvoorspeler het in 2017 die Leeus saam met sy pa (wat die Leeus se hoofafrigter was) vir die Engelse klubspan Gloucester verruil. Oor twee maande kan hy in aanmerking kom om Eddie Jones se Engelse te verteenwoordig en dié boorling van Pretoria sal nie nee sê as so ’n geleentheid hom voordoen nie.

Ek wil vir seker speel vir my land, waar ek grootgeword het, maar as dít nie kan gebeur nie, sal Engeland ook reg wees.
Ruan Ackermann

“Ek wil vir seker speel vir my land, waar ek grootgeword het, maar as dít nie kan gebeur nie, sal Engeland ook reg wees. Ek dink daaraan en het al ’n paar keer op Twickenham gaan rugby kyk, ’n stadion wat met toetse volgepak is met toeskouers.

“Engeland is ook ’n goeie span. My droom is om internasionale rugby te speel en ek het altyd van Engeland en ook van Jonny Wilkinson (voormalige losskakel van die Rose) gehou.

"Toe dinge nie by die Bokke uitgewerk het nie, onder meer met Duane Vermeulen wat so goed vertoon het, was Engeland my plan,” sê Ruan, wat nooit die Junior Bokke verteenwoordig het nie.

Ruan Ackermann (links) en sy pa, Johan, in 2019. Foto: Getty Images

Hy betree ook ’n nuwe fase in sy lewe, met sy pa wat ’n aanstelling by die Japanse klubspan Docomo Red Hurricanes aanvaar het.

Vir die eerste keer sedert Ackermann sy senior provinsiale buiging in 2015 vir die Goue Leeus gemaak het, sal hy vir ’n span speel wat nié deur sy pa afgerig word nie.

“Dit gaan beslis ’n aanpassing wees, ek en my pa het lank daaroor gepraat. Dit gaan my ook op ’n manier uit my gemaksone neem. Maar dit gaan emosioneel wees om by die werk te wees sonder iemand van my familie.

“Ek dink ons het ook in die laaste paar jaar meer geheg aan mekaar geraak, omdat dit net ons was en ons op mekaar aangewese was. Dit gaan snaaks voel om in ’n spanvergadering te sit sonder dat my pa daar is,” erken Ruan.

Johan, wat welslae met die Leeus en Gloucester behaal het, word al jare lank as ’n toekomstige Springbok-afrigter beskou. Ruan het derhalwe al lankal aan die moontlikheid gedink dat hy eendag vir die Engelse kan uitdraf teen ’n Bok-span met sy pa as breier.

“Hy (Johan) verdien beslis om internasionaal af te rig en ek weet ook dit is een van sy drome. Dit sal vreemd wees en ek dink ons gaan albei mekaar se tricks ken.

Ek wonder net watter span my ma dan gaan ondersteun.
Ruan Ackermann

“Dit gaan waarskynlik soos Owen Farrell (Engeland se kaptein) en sy pa (Andy Farrell, afrigter van Ierland) wees. Ek wonder net watter span my ma dan gaan ondersteun. Maar uiteindelik gaan dit daaroor wat die beste vir my en hom is, maar ja, ek dink beslis aan sulke dinge,” sê hy.

Ruan Ackermann in aksie vir Gloucester in 2019. Foto: Getty Images

Hoewel Ruan die afgelope seisoen meestal agtsteman gespeel het, is hy ewe tuis aan die kant van die skrum en kan hy ook heel gemaklik op slot sak. Hoewel sommige kenners veelsydigheid as ’n onding beskou, kan juis dit in sy guns tel.

“ ’n Jaar gelede was ek baie deurmekaar oor watter posisie ek moet speel. By die Leeus het ek flank gespeel, met Warren Whiteley wat agtsteman was. Toe hy beseer is, het ek na agt geskuif.

“Hierdie seisoen het ek agtsteman gespeel en ek geniet dit. Ek geniet dit om as agtsteman meer betrokke by die vaste vyf te wees. Dit hang natuurlik af van watter rol hulle van die agtsteman verwag.

“Maar ek kan ook gemaklik op slot speel en het ’n paar keer daar vir die Leeus gespeel. Ek weet hoe slot werk en my pa (Johan het in sy speeldae 13 toetse vir die Springbokke op slot gespeel) het my ook die fyner kunsies daarvan geleer,” sê Ruan.

In die media is die afgelope week vergelykings gemaak tussen hom en Billy Vunipola, straks Jones se eerste keuse om die Rose se nr. 8-trui te dra, maar die oud-Pretorianer antwoord diplomaties.

“Ek het altyd na Billy gekyk, hoe hy die bal dra en sy vaardighede. Hy is dalk nie die beweeglikste nie, maar die paar keer dat ek teen hom gespeel het, het ek gesien hy is ’n goeie speler.

“Dit is natuurlik nou moeilik om my met hom te vergelyk, omdat ons almal twee maande gelede laaste rugby gespeel het.
Ruan Ackermann

“Dit is natuurlik nou moeilik om my met hom te vergelyk, omdat ons almal twee maande gelede laaste rugby gespeel het,” sê Ruan.

Ná amper drie jaar in Engeland voel hy elke dag meer tuis in die vreemde, maar erken ook dat hy maar altyd met heimwee aan Suid-Afrika dink.

“ ’n Mens kan sê dat ek aangepas het. Ek staan nie meer in die oggend op en wens die weer word beter nie. Ek weet dit gaan so koud wees of selfs later nog kouer word.

“Maar ek wens steeds elke dag om by hierdie of daardie vriend in Suid-Afrika te wees en saam met hulle te kuier,” sê Ruan.

Meer oor:  Ruan Ackermann  |  Johan Ackermann  |  Japan  |  Gloucestershire  |  Afrigter  |  Rugby  |  Oorsee  |  Rose  |  Springbok
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.