Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Klein Dominici was reus van spel – Breyton

Cheslin Kolbe het dit vir eens en vir altyd bewys, maar in die beroepsera was Christophe Dominici ’n baanbreker in die stryd vir kleiner spelers om te wys dat hulle met rugby se grotes kan saamgesels.

Die All Black-losskakel Andrew Mehrtens probeer vergeefs die Franse blits Christophe Dominici keer op pad doellyn toe in die 1999 Wêreldbeker-halfeindstryd op Twickenham. Foto: Getty Images

So het die voormalige Springbok-vleuel Breyton Paulse gesê toe hy Woensdag ’n huldeblyk gelewer het aan Dominici, wat Woensdag op 48 jaar dood is. Dié blitsbuks, wat ’n geskiedenis van depressie gehad het, het vermoedelik sy eie lewe geneem. Hy het tussen 1998 en 2007 in 67 toetse vir Frankryk uitgedraf, waaronder twee teen Suid-Afrika in 2001. Paulse was toe sy regstreekse teenstander.

“Dominici was ’n reus in sy manier van speel, die verpersoonliking van Franse flair,” het Paulse aan Netwerk24 gesê.

“Hy was vreesloos en het nie geskroom vir kontak of teruggestaan vir groot ouens nie. Van die veld af was hy ook ’n aangename kêrel.”

Christophe Dominici teken die drie aan wat aan Frankryk die voorsprong gegee het in die 1999 Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland op Twickenham. Foto: Getty Images

Dominici, wat maar 1,72 m in sy sokkies gestaan en in sy speeldae ’n raps meer as 80 kg geweeg het, het 25 drieë vir die Hane gedruk, insluitend een in hul oorwinning van 32-23 oor die Springbokke op Ellispark in 2001. Die een waarvoor hy vir altyd onthou sal word, was in die 1999 Wêreldbeker-halfeindstryd teen Nieu-Seeland op Twickenham in Londen.

Die Kiwi’s was die oorweldigende gunsteling en met ’n voorsprong van 24-10 vroeg in die tweede helfte, ná ’n drie deur Jonah Lomu, goed op pad na ’n klinkende sege.

Maar twee skepdoele en twee strafdoele deur Christophe Lamaison het die agterstand na net twee punte laat krimp, voordat Dominici toegeslaan het. Hy het vir Andrew Mehrtens en Taine Randell geklop in die wedloop na die bal ná ’n skop van agter die Franse se oond. Die Franse blits is toe met ongelooflike vaartversnelling verby Mehrtens, met Randell wat nie kon byhou nie. Met Lamaison se doelskop was dit 29-24 in die Franse se guns en het hulle uiteindelik met 41-34 geseëvier.

“Wie sal daardie wedstryd in 1999 teen die All Blacks vergeet? Hy was die argitek van groot dinge daardie dag, waar niemand die Franse ’n kans gegee het om die All Blacks te klop nie,” sê Paulse.

“Ondanks al die pryse wat hy vir sy spel gekry het, sal hy onthou word vir die aanslag teen die All Blacks daardie dag.”

Christophe Dominici (links) vier Frankryk se oorwinning van 20-18 oor Nieu-Seeland in die 2007 Wêreldbeker-kwarteindstryd in Cardiff saam met Thierry Dusautoir en Damien Traille. Foto: Getty Images

Dominici, Paulse en Wallis se Shane Williams was as kleiner vleuels die uitsondering op die reël in die eerste 10, 15 jaar van beroepsrugby, waar die opvatting bestaan het dat dit nie ’n spel is vir agterspelers wat 80 kg of minder weeg nie.

“Hy het mense op ’n gereelde grondslag verkeerd bewys omdat die persepsie wêreldwyd was dat daar nie plek is vir kleiner outjies nie. Dankie tog Cheslin Kolbe het dit nou heeltemal begrawe,” sê Paulse.

“Dominici het ook sy rugby met ’n glimlag gespeel. Hy het die Franse passie op die veld uitgeleef. Die wêreld is armer sonder hom en ons dink aan sy familie.”

Breyton Paulse in aksie in 2001 se toets tussen die Springbokke en Frankryk op Ellispark, waar hy teenoor Christophe Dominici stelling ingeneem het. Foto: Gallo Images

Paulse sê mense moet besef dat selfs glanspersoonlikhede met probleme worstel.

“Dis vir almal ’n skok, maar die realiteit daar buite is maar een van hartseer en baie mense sukkel met dinge wat niemand van weet nie,” sê Paulse.

“Sportmense, politici en akteurs na wie mense opkyk, kan ewe veel probleme as Jan en Alleman hê. Almal is maar net mense. ’n Mens moet nie vinnig wees om iemand sommer op sosiale media te kruisig nie. Jy weet nie wat in daardie persoon se gemoed aangaan nie.

“Ek dink die staat van inperking wat ons beleef het, het vir ons geleer dat jy liewer moet bou as wat jy afbreek en nie mense sonder feite moet slegsê nie.”


Meer oor:  Hane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.