Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Klein Kolbe’ by sewes gekontrakteer

’n Rugbyspeler wat in die Varsitybeker-reeks uitgeblink en deur ’n afrigter in dieselfde asem as die Springbok-vleuel Cheslin Kolbe genoem word, het hom by die nasionale sewesakademie aangesluit.

Shaun Williams duik in 2019 oor die doellyn gedurende ’n Varsitybeker-wedstryd. Foto: Christiaan Kotzé|SASPA

Die 22-jarige Shaun Williams, wat in die laaste jaar van sy studie aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) is, het reeds hierdie week saam met sy nuwe spanmaats in Stellenbosch begin sweet.

“Ek kan regtig net met lof van Shaun praat, hy is iemand met goeie karakter. Toe hy destyds nog op skool by die Hoërskool Garsfontein was, het ek reeds van hom geweet,” sê Dewey Swartbooi, afrigter van UJ.

“As ons van rugby praat, het Shaun regtig talent. Hy is wat my betref ’n Cheslin (Kolbe), Gio (Aplon) of Fabian Juries (al drie het tevore vir die Blitsbokke gespeel). Hy is vinnig van die merk, goed onder die hoë bal en het voete wat skrik vir niks en is boonop so glibberig soos ’n rubberballetjie.”

Williams, wat vir twee jaar by die sewes gekontrakteer is, was deel van die Garsies se span wat in 2015 en 2016 die Beeld-Noordvaal-trofee vir Makroskole gewen het. In 2016 het hy die Blou Bulle in die Cravenweek-toernooi verteenwoordig, voordat hy ná skool by die Goue Leeus ingeval het.

Williams, ’n veelsydige agterspeler in vyftienman-rugby, vertel hoeka dat Kolbe sy held is, maar dat hy as laaitie na die Blitsbok Branco du Preez opgekyk het. In dieselfde asem sê hy dat hy effens skrikkerig was voor die eerste oefensessie in Stellenbosch.

Cheslin Kolbe op pad na sy drie in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi in 2019 in Japan. Foto: Getty Images

“Dit voel ongelooflik om by die sewes-akademie aan te sluit, die werklikheid het nog nie by my ingesink nie. Almal sê dit is ’n ongelooflike kultuur, wat beslis die geval is, en almal is vriendelik en laat jou baie welkom voel,” sê Williams.

“Ek was ’n bietjie op my senuwees voor die eerste sessie. Ek het geweet dit gaan moeilik wees, maar het uitgesien om weer ’n bietjie hard te werk. Dit is definitief ’n droom van my om net hier te wees, nie gedink dit sou so gou gebeur nie. Maar ek is baie dankbaar en opgewonde oor die geleentheid.”

In die wêreld is daar verskeie voorbeelde van mense wat al die pad byster geraak het omdat hulle nie hul voete op die grond kon hou nie, maar die leergierige Williams wil sy kop laag hou en die beste van die geleentheid maak.

“Vandat ek kan onthou, was dit my groot droom om by die sewes aan te sluit. Vir my gaan dit nou oor leer, hier is baie spelers wat al vergeet het wat ek nog moet kom leer,” sê Williams.

“Dit is my grootste prioriteit op hierdie oomblik. Hier is afrigters van wêreldgehalte by wie ek kan leer en net myself kan uitleef as speler en mens.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.