Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Klein Kolbe skrik nie vir Wallaby-bielies
Klein, maar getrein! Cheslin Kolbe laat hom nie deur ’n groter teenstander intimideer nie. Foto: Getty Images

Dit lyk omtrent asof die klein Springbok-vleuel Cheslin Kolbe in trane gaan uitbars wanneer hy vir die soveelste maal dieselfde ding gevra word – sal hy die man wat teen hom speel, kan keer?

Want kyk, Marika Koroibete is ’n wildebees wat dalk beter met ’n jaggeweer as met ’n laagvat gestuit kan word.

En wat van die Wallabies se ander vleuel, Israel Folau? Herinner hy nie aan ’n jong kameelperd nie?

“Ek is nie die grootste ou op die veld nie en om teen groter teenstanders te speel, maak my opgewonde,” probeer Kolbe geduldig bly.

“Ek hou daarvan om te bewys dat jy met die regte ingesteldheid en selfvertroue net so goed soos die groter ou kan vaar.”

Kolbe is Saterdag in die Nelson Mandelabaai-stadion teen die Wallabies vir die eerste keer in die Bokke se beginspan.

Hy het sy debuut drie weke gelede in Australië teen die einste Wallabies as ’n plaasvervanger gemaak.

“Ek hou daarvan om te bewys dat jy met die regte ingesteldheid en selfvertroue net so goed soos die groter ou kan vaar.
Cheslin Kolbe

Voorverlede week het hy in die Bokke se dramatiese oorwinning oor die All Blacks ook as plaasvervanger kans gekry en met die intrapslag sommer ’n onderskep-drie gedruk.

Mense wat wonder of hy kan verdedig, het seker nie gesien hoe hy in daardie toets die sterk Kiwi-vleuel Rieko Ioane vreesloos platgetrek het nie.

Israel Folau voorspel altyd gevaar vir die Springbokke. Foto: Getty Images

“Die uitslag in Brisbane (waar die Wallabies met 23-18 gewen het) was nie wat ons wou gehad het nie, maar die oorwinning oor die All Blacks het ons weer baie selfvertroue gegee,” sê Kolbe.

Hy is bra lugtig vir die Wallabies se agterste driehoek, wat hierdie naweek uit Dane Haylett-Petty op heelagter en Folau en Koroibete op die vleuel sal bestaan.

“Hulle is baie goed in die lug en op die aanval. Dit gaan vir my, Aphiwe (Dyantyi) en Willie (le Roux) ’n groot uitdaging wees om te wys dat ons net so goed is,” sê Kolbe.

Veel meer wou Kolbe nie oor die teenstanders sê nie. Rassie Erasmus, die Bokke se breier, het wel iets oor Folau – wat ietwat verrassend weer op regtervleuel gekies is – te sê gehad.

“Hy (Folau) kom baie keer sommer van binnesenter van ’n lynstaan af op jou afgehardloop,” sê Erasmus.

“Hulle (die Wallabies) skommel hul agterlyn sommer vir verskillende bewegings.

“Dit maak nie eintlik saak wat is die nommer op sy (Folau) rug nie. As hy op die veld is, is hy gevaarlik.”

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Port Elizabeth  |  Bokke  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Wallabies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.