Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Klein Plumtree wag op Junior Bokke

John Plumtree, afrigter van die Hurricanes, se seun gaan na verwagting Woensdag vir Nieu-Seeland se o.20-span teen die Junior Bokke uitdraf.

Taine Plumtree in 2018 in aksie vir Wellington se o.19-span teen Taranaki. Foto: Getty Images

Suid-Afrika en die Kiwi’s, wat albei nog onoorwonne is, kom in hul laaste groepwedstryd van die o.20 Wêreld-toernooi in Rosario, Argentinië teen mekaar te staan.

Plumtree se seun Taine, ’n slot, het tot dusver in albei die Nieu-Seeland se wedstryde by die toernooi gespeel. Taine is in Wallis gebore toe sy pa destyds in dié land afgerig het, maar het die grootste deel van sy grootwordjare in Suid-Afrika deurgebring.

Hy was ’n skolier aan Northlands Primary School in KwaZulu-Natal in die tyd wat sy pa die Haaie afgerig het.

Plumtree sr., ’n Nieu-Seelander van geboorte, het ’n lang verbintenis met Suid-Afrika. Sy vrou, Lara, is hier gebore, en hy het die Haaie in sy speeldae verteenwoordig en ook in twee toernooie vir die Blitsbokke gespeel.

Chean Roux, afrigter van die Junior Bokke, het drie veranderinge aan die span aangebring wat Georgië die afgelope naweek geklop het.

Thaakir Abrahams is die nuwe linkervleuel in die plek van Caleb Dingaan. Voorlangs sal Sibusiso Sangweni aan die kant van die skrum sak in die plek van Celimpilo Gumede. Die slot Emile van Heerden, wat die afgelope naweek sy tweede geelkaart in Argentinië gekry het, maak plek vir Elrigh Louw.

Thaakir Abrahams duik die afgelope naweek teen Georgië oor die doellyn. Foto: Getty Images

Tog sê Roux daar is niks onderduims aan die veranderinge nie.

“Ons het na ons teenstander gekyk en die beste span gekies wat ons kan. Dit is belangrik dat ons van die spelers ook ’n ruskans gee. Die spelers se spelpeil is goed en dit is goed om daardie bestendigheid te handhaaf,” sê hy.

Die drie spanne wat eerste in die drie groepe eindig, tesame met die volgende span met die drie groepe met meeste punte, dring deur na die halfeindronde.

Selfs ’n nederlaag met ’n bonuspunt sal straks vir Suid-Afrika genoeg wees om sy plek in die uitspeelrondes te bespreek.

Roux weet egter dat momentum nou belangrik vir sy span is. Boonop sal ’n sege oor die Kiwi’s, wat al ses keer die toernooi gewen het, sy span se selfvertroue die hoogte laat inskiet.

“Ek dink dit gaan ’n moeilike wedstryd wees met hulle (die Kiwi’s) wat die bal in die hand gaan probeer hou.

“Hulle gaan soos enige Nieu-Seelandse span speel en dit gaan van ons afhang om hulle onder druk te plaas en dan hopelik die vaste fasette te oorheers,” sê Roux.

* Nieu-Seeland se span vir die kragmeting is nog nie uitgereik nie.

* Suid-Afrika o.20: Vaughen Isaacs, Angelo Davids, Marnus Potgieter, Rikus Pretorius, Thaakir Abrahams, James Mollentze, Jaden Hendrikse, Phendulani Buthelezi (k), Sibusiso Sangweni, Dylan Richardson, Elrigh Louw, JJ van der Mescht, Asenathi Ntlabakanye, Fezokuhle Mbatha, Dian Bleuler. PLAASVERVANGERS: Dameon Venter, Kudzwai Dube, Keagan Glade, Thabiso Mdletshe, Jaco Labuschagne, Celimpilo Gumede, Zwelendaba Mnombo, Sanele Nohamba, Janko Swanepoel, Emile van Heerden, Caleb Dingaan, David Coetzer, David Kriel.

Afskop: 20:30 (SA tyd) regstreeks op SS 1.

Meer oor:  Junior Bokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.