Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Klein unies pak Saru met sterk regspan

Vyf van die land se klein unies het die afgelope week met regstappe teen die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) begin om dié beheerliggaam se begroting vir 2018 ongeldig te laat verklaar.

Die Luiperds, Boland, Valke, Griffons en Grens se regspan voer in ’n skrywe aan dat Saru se begroting vir 2018 ongrondwetlik is. Die goedgekeurde 2016-2020-befondsingsmodel is nie volgens dié unies met die opstel van 2018 se begroting in ag geneem soos deur klousule 6.11 van die beheerliggaam se grondwet bepaal word nie.

Adv. Kemp J. Kemp SC, Foto: Mlungisi Louw

Rapport verneem die nie-franchises het vanjaar 52% – sowat R11 miljoen – minder as in 2017 gekry. Saru het net R10,14 miljoen aan elkeen van die ses kleiner unies toegeken.

Griekwas en die Pumas, aan wie Saru einde verlede jaar franchises toegeken het, het 44% minder as in 2017 gekry. Die ses ander franchises se begroting is met 10% sedert 2017 gesny.

Die Luiperds, Griffons, Valke, Grens en Boland, wat Hannes Peyper as prokureur en die senior advokaat Kemp J. Kemp in hul regspan aangestel het, is omgekrap omdat hulle nou onder meer glo pa moet staan vir die R148 miljoen wat die Cheetahs en Kings se Pro14-deelname Saru in 2018 en 2019 kos.

Die nie-franchises is weens die besnoeiing van 52% in ’n oorlewingstryd gedompel. Hulle vrees dat hulle as gevolg van die kleiner inkomste nie al hul ligaverpligtinge van hul senior en jonger spanne sal kan nakom nie.

Die SWD-Arende, wat deel van die aanvanklike gesprekke tussen die sogenaamde kleiner unies was, het hulle aan die aksie onttrek.

Vanjaar se begroting is op 8 Desember 2017 deur sewe van die 12 stemgeregtigde unies goedgekeur. Grens en die Kings kon nie stem nie omdat hulle toe nog deur Saru bestuur is.

Die nie-franchises het toe reeds hul ongelukkigheid uitgespreek en daarteen gestem.

Die begroting word deur Saru se finansiële komitee opgestel, deur die uitvoerende komitee verfyn en deur die algemene raad goedgekeur.

Saru, wat nie gister kommentaar op Rapport se navrae gelewer het nie, het vroeër in ’n skrywe aan die ongelukkige unies bevestig dat hy nie die begroting vir 2018 met die inagneming van die 2016-2020-befondsingsmodel opgestel het nie.

Saru het terselfdertyd ook beweer hy het nie ongrondwetlik opgetree nie.

Saru het dié befondsingsmodel op 15 Julie 2015 op ’n strategiese sessie in Franschhoek opgestel en dit is op 11 Desember 2015 se vergadering van die algemene raad goedgekeur.

Daarvolgens moes:

  • Elkeen van die land se ses franchises jaarliks R28 miljoen ontvang as hulle ’n ontwikkelingsooreenkoms met een van die sogenaamde agt klein unies sluit.
  • Die nie-franchises R15 miljoen elk per jaar ontvang.
  • Elke unie van 2017 af ’n verhoging van R1 miljoen uit TV-regte kry.
  • R2,5 miljoen aan die nie-franchises toegeken word wat aan die Premierliga van die Curriebeker-reeks deelneem.
  • Unies wat nie toetse aanbied nie, jaarliks R1,25 miljoen elk ontvang.
  • Elke unie jaarliks R3,35 miljoen in reisgelde ontvang.
  • In die skrywe word Saru tot 25 Mei kans gegee om op die griewe van vyf klein unies te reageer.

Indien daar nie tot ’n vergelyk gekom word nie, sal bemiddeling en arbitrasie volg, waarna ’n hofsaak kan volg.

Meer oor:  Grens  |  Boland  |  Griffons  |  Valke  |  Regstappe  |  2018  |  Begroting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.