Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kleine Pichot rugby se magtigste man
Geluk, ou Skalla! Pichot wys in 2007, nadat die Bokke die Poemas met 37-13 in die Wêreldbeker-toernooi se een halfeindstryd gelooi het, hy kan ’n pak slae vat. Schalk Burger is die man links met die breë T-been-wangbaard. Foto: Getty Images

Die magtigste man in die rugbywêreld is 1,77 m lank en weeg deesdae dalk ’n rapsie meer as die 77 kg wat hy geweeg het toe hy een van die beste skrumskakels op die planeet was.

Agustín Pichot (44), legendariese kaptein van Argentinië, is onlangs vir die tweede agtereenvolgende keer in die tydskrif Rugby World as die invloedrykste persoon in wêreldrugby aangewys.

Pichot is deesdae die visevoorsitter van Wêreldrugby (voorheen die Internasionale Rugbyraad). Hy het so ’n magnetiese persoonlikheid en is so ’n oortuigende spreker dat mense soms verbaas is om te hoor dat Bill Beaumont eintlik die voorsitter van Wêreldrugby is en nie Pichot nie.

Pichot is iemand met geweldige dryfkrag. Dit was danksy sy eindelose werk agter die skerms dat Argentinië eindelik in 2012 deel van die Rugbykampioenskapsreeks geword het.

Net so is Pichot nou aan die woel om te verseker dat rugby wêreldwyd moet groei.

“As rugby aanhou om net op Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië te fokus, sal dit nie groei nie,” sê hy.

“Argentinië, Asië en Amerika, dis waar ons moet groei. Jy moet groei om te oorleef.”

Pichot is ook die dryfveer agter ’n veldtog om trekvoëls se vlerke te knip en dit moeiliker vir spelers te maak om vir aangenome lande toetsrugby te speel.

As ’n speler het Pichot in vier Wêreldbeker (WB)-toernooie vir die Poemas gespeel. In 1995 was hy nog ’n groentjie toe die toernooi in Suid-Afrika gehou is. In 1999, in Wallis, was hy al een van sy land se sleutelspelers en in 2003 in Australië en 2007 in Frankryk was hy die kaptein.

’n Jeugdige Agustín Pichot in aksie vir sy geliefde Poemas.Foto: Getty Images
Pichot in aksie vir die Barbarians teen die Springbokke. Dis Robbie Fleck daardie wat hom so om die skouers grond toe ry!Foto: Getty Images
Wie is nou die eintlik die baas? Links is Bill Beaumont, die voorsitter van Wêreldrugby. Regs is Agustín Pichot, die visevoorsitter. Foto: Getty Images

Wie sal ooit die Poemas se opwindende veldtog in 2007 se WB-toernooi vergeet? Hulle het die bronsmedalje gewen nadat hulle in die halfeindronde deur die Springbokke uitgeskakel is. In die proses het Pichot-hulle met Ierland, Skotland en twee keer met Frankryk afgereken.

Pichot het ’n rapsie meer as 70 toetse vir sy land gespeel.

“Dit moes baie meer gewees het. Maar toe ek vir die Poemas gespeel het, het ons nie soveel toetse gespeel nie,” sê hy.

“Ek sou daarvan gehou het om my meer gereeld teen skrumskakels soos George Gregan en Justin Marshall te kon meet.”

Beroepsrugby het nie so vinnig in Argentinië gegroei nie en Pichot was een van verskeie Argentynse sterre wat ná 1995 begin het om vir Europese klubs te gaan speel.

Pichot het op sy dag vir Richmond, Bristol, Stade Francais en Racing Metro (deesdae Racing 92) uitgedraf.

Hy was altyd ’n gewilde spanmaat. Toe die Poemas in 1999 teen Wallis speel, het Craig Quinnell en ’n paar Argentyne bolle gerol.

Nou, Quinnell en Pichot was spanmaats by die Engelse klubspan Richmond daardie tyd. Pichot het geweet Quinnell was nogal ’n woestaard, maar dit het hom nie gekeer om op die groot slot se rug te spring en soos ’n nagapie aan hom te klou nie.

“Ai, ou Gussie,” het Quinnell goedig gesug, die outjie van sy rug geskud en hom ’n broederlike omhelsing gegee. Einde van die geveg.

Vir die Poemas was Pichot ’n inspirerende kaptein. Hy het die talent gehad om die beste uit sy spanmaats te kry. Soms met ’n harde woord hier, ’n sagte woord daar, ’n taai, onverwagse klap agter die kop of ’n emosionele gesmeek. Vir hom sou die Poemas deur ’n rivier van lawa swem.

Soos die voormalige Springbok-kaptein Wynand Claassen was hy nie almal se idee van hoe ’n kaptein moet lyk nie. Nes Claassen het hy ’n bos lang hare gehad en nes Claassen het sy sokkies meestal om sy enkels gehang.

Maar nes Claassen was hy ’n goeie kaptein en slim strateeg.

Mense praat vandag nog van spelers soos Gareth Edwards en Sid Going as hulle van die beste skrumskakels van alle tye gesels. Pichot behoort ook genoem te word. Hy was – en is steeds – sowaar ’n reus in ’n klein liggaam.

Bronne: ESPN, The Sunday Telegraph, Rugby World, The Courier Mail.

Meer oor:  Argentinië  |  Bill Beaumont
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.