Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Welgedaan Bulle – ondanks vrot 2de helfte

Dit is dalk nog te vroeg om te praat van die slapende reus van Suid-Afrikaanse rugby wat aan die ontwaak is, soos wat die Bulle-breier, Jake White, die afgelope week na sy span verwys het.

Ivan van Zyl druk ’n drie vir die Bulle. Foto: Gallo Images

Daar sal ook in die 2020-jaarboek ’n voetnota wees oor die koronavirus wat die geloofwaardigheid van die plaaslike Superreeks in twyfel gebring het.

Maar laat dit niks wegvat nie van die Bulle, wat duidelik die keur in die Unlocked-kompetisie was én weer met silwerware in Loftus Versfeld kan spog.

Duane Vermeulen en sy makkers het op Loftus toegesien dat daar vir die eerste keer in tien jaar weer ’n kampioenspan in Pretoria is toe hulle die Pumas met 21-5 geklop het.

Ná die ontwrigting en onsekerheid wat daar die laaste paar dae weens Covid-protokol in die Puma-kamp was, was dit altyd die gevaar dat die Laevelders kanonvoer sou wees.

Die Bulle se oorheersing in die eerste helfte was omvangryk – hulle het byna 80%-gebiedsvoordeel gehad en die Pumas het voor rustyd nie een keer naby aan die teenstander se kwartgebied gekom nie.

Die Pumas het met ’n saamgeflanste voorry by Loftus aangekom en was aanvanklik op die agtervoet in die skrums.

Met ’n rustyd-voorsprong van 21-0 (en die telling moes groter gewees het), was die Bulle op koers om ’n goeie drag slae uit te deel.

Dít het nooit gebeur nie en Vermeulen-hulle was teleurstellend in die tweede helfte. Die Bulle het nie weer punte aangeteken nie en dit was die Pumas wat met die grootste onderneming gespeel het.

Jimmy Stonehouse se plaasvervangers in die agttal het ’n groter impak gemaak as die Bulle s’n en die Pumas het aansienlik beter besit in die tweede skof gehad.

Daar is verskeie onderskatte spelers in die Puma-span.

Die buitesenter Erich Cronjé is vol rugby en die losvoorspeler Willie Engelbrecht, wat gespeel het ondanks die afsterwe van sy pa, Buks, is kliphard en fisiek.

In die volgende paar weke sal die Pumas se diepte egter getoets word in die Curriebeker-kompetisie.

Die oplewing by Loftus sal eers volgende jaar werklik in konteks geplaas kan word wanneer daar teen die voorste klubspanne van Ierland, Skotland en Wallis gespeel word.

Maar vir eers is dit vir ondersteuners in dié geweste, ondanks die onoortuigende vertoning teen die Pumas, aangenaam om vir die eerste keer in ’n lang ruk ’n glasie te klink op die Bulle.

Puntemakers:

Bulle 21 (21): Drieë: Kurt-Lee Arendse, Chris Smith, Ivan van Zyl. Doelskoppe: Smith (3).

Pumas 5 (0): Drie: HP van Schoor.

Meer oor:  Pumas  |  Superrugby Unlocked  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.