Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
‘Klou vas aan Kwagga’
Kwagga Smith (met die bal) se vaart beïndruk die voormalige Springbok-kaptein Divan Serfontein. Foto: Getty Images

Moenie vir Kwagga Smith die trekpas gee nie!

Dis die pleidooi van die voormalige Springbok-kaptein en –skrumskakel Divan Serfontein op die vooraand van die aankondiging van Suid-Afrika se uitsoekgroep van 31 vir die Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Divan Serfontein. Foto: Argief

Die Bok-groep word Maandag om 15:00 aangekondig.

Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, het sy groep verlede week op die oefenkamp in Bloemfontein tot 32 gesny. Smith, Rynhard Elstadt (albei losvoorspelers) of die heelagter Warrick Gelant gaan dalk wegval om dit 31 te maak.

“Ek hoop nie dis Kwagga nie. Hy kan balle op die grond wen en het ook baie goeie vaartversnelling. Die meeste losvoorspelers neem ’n tydjie om te versnel. Kwagga kan oral uitkom. Ek is ’n Kwagga-fan,” sê Serfontein.

Hy verwag dat Gelant die ongelukkige sal wees. Willie le Roux gaan na verwagting die voorkeur-heelagter wees.

Die vermoë van ander spelers om op heelagter in te skakel kan teen Warrick Gelant tel wanneer die uitsoekgroep vir Suid-Afrika se WB-veldtog Maandag aangekondig word. Foto: Gallo Images

“Ons het baie veelsydige agterspelers. Frans Steyn en Cheslin Kolbe kan albei op heelagter inskakel as dit nodig is,” sê Serfontein.

Terwyl hy meen die Bokke ’n sterk groep het om van te kies sou Serfontein graag die Haaie-losskakel Curwin Bosch onder hulle wou gesien het.

“Curwin se spelpeil (in die Superreeks) was die beste van ons losskakels. Ek sal vir Handré Pollard binnesenter toe skuif. Sy verdediging en balverspreiding is goed. Al die spanne wat die WB-toernooi gewen het, het ’n losskakel op binnesenter gehad,” sê hy.

“Bosch en Pollard kan albei aftrap en dan sal ek vir my ’n vinnige buitesenter kies. Curwin het alles wat jy in ’n losskakel soek.”

Terwyl die Bokke vanjaar ’n opwaartse kurwe toon, is Serfontein bekommerd oor hul verdedigingstelsel. Hy meen dit kan deur skopwerk en oorslaanaangeë getroef word.

“Ons gaan seergemaak word as ons só vinnig opskiet. Die spelers moet nie van buite af na binne toe opskiet nie. Die umbrella-defence is die maklikste stelsel om te klop solank as wat jy nie skrik vir wat voor jou is nie,” sê hy.

Nóg ’n oud-Bok-kaptein, Corné Krige, verwag dat of Smith of Elstadt nie die paal gaan haal nie. Smith se probleem is dat die Bokke in Francois Louw ’n meer ervare speler het wat ook die rol van baljagterflank en agtsteman kan vervul.

Gaan Rynhardt Elstadt se fisieke teenwoordigheid ingeboet word wanneer Suid-Afrika se Wêreldbeker-groep Maandag aangekondig word? Foto: Gallo Images

“Ek dink jy benodig twee spelers wat bal toe kan speel. Dis waarom ek só jammer voel vir Marcell Coetzee oor sy besering. Hy kan dit baie goed doen,” sê Krige.

“Flo en Kwagga kan albei nr. 6 of nr. 8 speel. Dis dikwels makliker as jy jou oopkantflant as agtsteman laat pak, want hy kan dan vinniger by die bal uitkom.”

Corné Krige. Foto: Argief

Krige meen terselfdertyd dat Elstadt ook sy deugde het.

“Rynhardt bied jou aggressie. Rassie gaan mooi moet gaan nadink. Dis jammer dat daar nog ’n speler is wat moet wegval,” sê hy.

Krige meen dis nie buite die kwessie dat Erasmus nog kan besluit om vir Damian Willemse in die groep in te sluit nie.

“Ek dink Damian sou daar gewees het as hy nie ’n besering opgedoen het nie. Dalk laat Rassie nog vir Warrick weg en kies vir Damian,” sê hy.

Willemse het onlangs vir die Westelike Provinsie teen Griekwas sy terugkeer van ’n kniebesering gemaak wat hy in die Superreeks opgedoen het en het ook in Saterdag se Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat-Cheetahs in Bloemfontein gespeel.

Meer oor:  Kwagga Smith  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Divan Serfontein  |  Springbokke  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.