Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Willem George: Klubrugby tot 60!

Willem George het die Here gevra om net toe te laat dat hy tot op 60 kan rugby speel.

Willem George in sy geliefde Orchards-rugbytrui. Foto: Edrea du Toit

“Ek het Hom ook gevra dat ek darem op 60 kan trou. Alles gebeur nou, so nou móét ek klaarmaak,” sê George, wat verlede naweek die laaste keer die Orchards-rugbytrui oor sy kop getrek het.

Dit was nou wel ’n nederlaag van 14-12 teen Evergreens Nuy, naby Robertson, maar George het vrede.

“As die wedstryd net so ’n bietjie langer was, het ons hulle gehad. Dis ons probleem al heel jaar, ons speel eers rugby ná die omdraaislag,” sê George.

Vir 40 jaar het hy naweek ná naweek die klubspan van De Doorns in die Kaapse Wynland op die rugbyveld verteenwoordig.

“Elke Saterdag was ek die eerste man hier (by die Hexvallei-sportterrein op De Doorns) om die tafels te help opslaan, en dan is ek een van die laastes om te loop, want ons moet eers help om die velde weer skoon te kry.”

Hy waarsku egter vinnig dat hy nie nou verlore is vir die spel wat hy so lief het nie.

Skot speel op 95 weer
Die Skot Easton Roy word alom beskou as die wêreld se oudste klubrugbyspeler. Roy het vanjaar op die ouderdom van 95, tien jaar ná sy uittrede, weer sy stewels nader gehark om vir Stirling County in ’n wedstryd vir liefdadigheid uit te draf.

“Ek gaan nou volgende jaar begin afrig, en ek sal steeds saam met die manne kom oefen, maar game-tyd sal ek daar oorkant in die skaduwee sit en die dinge dophou.”

George, gebore en getoë op die spoorwegdorpie Touwsrivier, het in 1975 as 16-jarige na De Doorns getrek, waar hy eers vir die Panorama- en Young Swallows-klub gespeel het.

“Daai klubs bestaan nou nie meer nie, maar in 1978 het ek by Orchards aangesluit, en vir hulle het ek die afgelope 40 jaar uitgedraf.”

George sê hy het al elke posisie denkbaar gespeel.

“Ek het begin as ’n heelagter en ’n losskakel in my jong dae, maar soos ek ouer en stadiger geword het, het ek maar na die voorspelers toe beginne beweeg.”

Hy het verlede Saterdag sy laaste wedstryd vir Orchards op loskopstut uitgedraf.

“Ná die game toe sê daai vaskoppie vir my hy was nog nooit deur só ’n ou man geskrum nie,” spog George.

George het tien kinders, maar trou eers Desember met Susanna Stanley, die ma van sy jongste kind. Sy het verlede Saterdag nog hard gebid dat hy nie moet seerkry in sy laaste wedstryd nie, sê hy.

Die bekendste spelers teen wie hy gespeel het, is John Noble (deel van Suid-Afrika se eerste veelrassige nasionale span) en die eerste nie-wit Springbok, Errol Tobias.

“Hy (Tobias) was toe nog nie ’n Springbok nie, en het vir Caledonians gespeel, maar mens kon toe al sien die mannetjie is vir groter dinge bestem,” sê George. Daardie wedstryd teen Tobias was sy gunsteling-wedstryd tot nog toe.

Sy enigste groot besering in 43 jaar se rugby was toe hy sy been in 1998 gebreek het, in ’n wedstryd teen ’n klubspan van Worcester. “Die doktertjie, wat vir Worces­ter gespeel het, sê toe vir my dit lyk nie of ek weer sal kan speel nie, want my been het gesplinter.

‘Toe pink ek maar ’n traan of twee daar in sy spreekkamer.”

’n Fisioterapeut het hom egter bemoedig.

“Sy sê toe vir my daar’s mos net een man wat kan besluit oor my rugbyloopbaan. Van toe af vra ek maar elke jaar die Here om my veilig op die veld te hou.”

George sê die raad het hom veral goed gehelp met sy ander groot terugslag, ’n hartaanval op 6 Januarie 2010.

Ná sy Facebook-plasing (“ek wou sommer net op die kleinkinders se Facebook vir goed kyk wat ’n mens kan koop en verkoop, nou is ek ingetrek”) oor sy laaste wedstryd, het talle mense hom gelukgewens met die lang loopbaan, met party wat sê hulle het gedink hulle sou hom nog van die veld moes kom afdra.

George sê Tobias en ander oud-Bokke soos Jannie Engelbrecht het hom ook gekontak en gelukgewens met die loopbaan wat nou verby is.

Hoe gaan hy voel as die seisoen volgende jaar aanbreek?

“Ek sal daai Saterdag maar laat hier moet opdaag,” spot George, “anders kry ek weer lus.

“Gelukkig gaan bêre ek nou my stewels in ’n glaskas.”

Meer oor:  Bejaardes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.