Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Klubspelers in WP kan baat by Saru-reëls

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se regulasie dat provinsies slegs 45 senior spelers mag kontrakteer, kan vorentoe geleenthede vir klubspelers ontsluit.

So sê Jerome Paarwater, bestuurder van hoë prestasie by die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU). Paarwater is nou betrokke by die identifisering van talentvolle spelers uit klubs se geledere.

Jerome Paarwater hou ’n oog op klubrugby om talent vir die Westelike Provinsie se senior spanne te ontgin. Foto: Gallo Images

“Ek het verlede jaar al begin om met klubspelers te vergader en verduidelik hoe belangrik dit nou raak. As jy goed genoeg is, is daar vir jou ’n geleentheid,” sê hy.

Paarwater het in November verlede jaar al begin met toetse vir klubspelers uit die WP se Superliga-spanne en het ’n groep van 35, wat hy in die SuperSport-uitdaagreeks kan gebruik.

“Die belangrike ding is hul kondisionering en ons oefenmetodes. Ons het die standaarde waaraan beroepspelers moet voldoen in oënskou geneem en op ’n standaard vir amateurspelers besluit. Dis amper dieselfde, maar ons moes in berekening bring dat baie van die ouens heeltyds werk,” sê Paarwater.

“Daar is wel ouens wat al gewys het dat hulle op dieselfde standaard as die beroepspelers is.”

Paarwater se groep oefen twee keer per week in die aande en ’n derde sessie sal bygevoeg word wanneer die Uitdaagreeks begin. Dit gaan na verwagting eers in April, ná die Varsitybeker-reeks, beslis word.

Selfs al is die publiek en media nie gaande oor die Uitdaagreeks nie, meen Paarwater dit dien ’n belangrike doel.

Dis lekker om te sien hoe trots die ouens is wanneer hulle bloot net ’n oefentrui van die WP aantrek.
Jerome Paarwater

Klubspelers kry daardeur geleenthede en Superrugby-spelers kan dit ook gebruik om wedstrydfiks te raak wanneer hulle van beserings terugkeer. Daar is ook sprake dat die Gold Cup-klubkompetisie kan wegval – indien ’n borg nie gevind kan word nie.

“Dis lekker om te sien hoe trots die ouens is wanneer hulle bloot net ’n oefentrui van die WP aantrek. Hulle neem foto’s en plaas dit op Facebook. Daar’s nog trots soos in die ou dae, want dis ouens sonder provinsiale kontrakte,” sê Paarwater.

Die klubs se afrigters kry ook opleiding en die geleentheid op interaksie met provinsiale breiers.

“Ons het op 5 Februarie ’n werksessie met afrigters en skeidsregters. Dit bied ’n geleentheid om nuwe reëls deur te gaan,” sê hy.

“Ons kyk ook na hoe ons klubafrigters kan help deur saam met skeidsregters te werk. Hulle kan skeidsregters by oefensessies betrek om byvoorbeeld te kyk na die afbreekpunte en die onkantlyn te verduidelik.

“Dit is ’n proses waarmee ons lankal besig is. Jy doen sulke werk omdat jy lief is daarvoor en dis nie nodig vir die hele wêreld om daarvan te weet nie. Mense sê egter dikwels dat niks gedoen word nie. Daar word egter vir jare al baie werk met die klubs gedoen.”

Selfs klubs wat nie in die Superliga speel nie, is in die WPRU se visier vir blootstelling deur streekspanne wat moontlik proewe teen mekaar kan speel. Die idee is om daaruit ’n span te kies vir wedstryde teen die Boland en SWD-Arende.

“Dis belangrik dat ons ’n databasis van spelers in die WP het en dat hulle sien daar is ’n kans om by ’n provinsiale span betrokke te raak,” sê Paarwater.

Meer oor:  Jerome Paarwater  |  Wpru  |  Westelike Provinsie Rugbyunie  |  Saruy  |  Klubrugb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.