Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koch sê hy wei nie saam met Bulle

Hy sluit nie die moontlikheid uit nie, maar as hy na Suid-Afrika terugkeer, sal dit nie voor 2019 wees nie.

Só het Saracens se Springbok-vaskopstut, Vincent Koch, Donderdag in ’n eksklusiewe onderhoud met Netwerk24 gesê oor gerugte dat hy ’n kontrak met die Bulle gesluit het.

Vincent Koch (links) sal bitter graag weer skouer-aan-skouer met Springbok-spanmaats wil staan en die volkslied sing, maar sê ’n terugkeer Suid-Afrika toe voor 2019 is buite die kwessie. Foto: Gallo Images

“Eerlik, dis nie waar nie. Ek het met niemand gepraat nie. Die enigste aanbod wat daar vir my op die tafel is, is van Saracens. Ek is tot 2019 by dié klub onder kontrak,” sê Koch.

Maar, voeg hy by, sy boodskap aan die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se direkteur van rugby, Rassie Erasmus, was dat hy “natuurlik” nog die ambisie koester om vir die Springbokke te speel en die Groen-en-Goud met trots sal dra.

“Ek voel ek het nog hopeloos te min vir die Bokke gespeel. Ek wil die trui dra en my land trots maak,” sê hy.

“As Rassie Erasmus my baie graag soek, sal dit ’n opsie wees om terug te keer, maar dit sal nie voor 2019 wees nie.”

Erasmus se probleem is tans dat die sogenaamde “30-toets-reël” nog van krag is. Dit beteken dat spelers by oorsese klubs wat nog nie 30 toetse vir die Bokke gespeel het nie, nie buite Wêreldbeker-jare Suid-Afrika mag verteenwoordig nie. Daar is wel bespiegelings dat Saru van Suid-Afrika se voorste spelers terug wil lok.

“Toe ek oorsee gekom het, was daardie reël nie van krag nie,” sê Koch, wat nog net nege toetse gespeel het, maar desondanks onder Suid-Afrika se voorste vaskopstutte gereken word.

Koch meen die Walliese Rugbyunie se benadering – dat spelers verkiesbaar bly as hulle reeds oorsee gekontrakteer was toe die reël van 60 toetse gemaak is – het meriete.

As Rassie Erasmus my baie graag soek, sal dit ’n opsie wees om terug te keer, maar dit sal nie voor 2019 wees nie.
Vincent Koch

“Ek weet nie of dit dalk ’n beter benadering is nie, maar ek sê nie Suid-Afrika se reël is swak nie,” sê hy.

Daar was bespiegeling dat die sakereus Remgro se aandeel in sowel Saracens as die Blou Bulle die weg vir Koch kon baan om uit sy kontrak in Engeland vrygestel te word, maar hy meen dis onwaarskynlik.

“Saracens is baie tevrede met my, so ek weet nie of hulle te gretig gaan wees om tot só iets in te stem nie,” sê hy.

Koch is ook nie spyt oor sy skuif Saracens toe nie.

“Ek is baie gelukkig hier en voel dit was die regte skuif. Dinge gaan goed. Hier word geloof in my gestel en ek word die vryheid gegun om na my sterk punte te speel,” sê hy.

“Dis net ’n jammerte dat ek nou my enkel beseer het. Dit was na nét 33 sekondes in ons wedstryd (teen die Newcastle Falcons) die afgelope naweek. Die dokter hier het vir my gesê ek sal 12 weke buite aksie wees.”

Dit beteken Koch behoort vir Junie se reeks teen Engeland beskikbaar te wees. Met Coenie Oosthuizen op die langtermyn-krukkelys en onsekerheid oor wanneer presies Frans Malherbe van sy nekbesering gaan herstel, sal dit net sin maak as Erasmus werk daarvan maak om vir Koch beskikbaar te kry.

Vir eers is Koch se planne egter nog om in Junie in Suid-Afrika te kom vakansie hou. Bygesê, was dit nog altyd in Erasmus se DNS om ’n haas uit die hoed te pluk . . .

Meer oor:  Bokke  |  Saracens  |  Springbokke  |  Bulle  |  Vincent Koch
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.