Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koch se kniebesering glo ‘afpers-taktiek’
Vincent Koch. Foto: Gallo

Vincent Koch en sy agent, Gert van der Merwe, is besig om die Pumas glo “af te pers” sodat hy hom vroeër by die Saracens in Engeland kan aansluit.

Die Pumas is so ontstoke oor dié vaskopstut, wat die afgelope twee jaar aan die Stormers geleen word, en sy verteenwoordigers se optrede dat hulle Dinsdag ’n amptelike klag by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) ingedien het.

Koch is ontevrede met die Laevelders se onwilligheid om op ’n oordragbedrag met Saracens, die Engelse kampioen, ooreen te kom.

Die 26-jarige vaskopstut, wat tot einde Oktober gekontrakteer is, het nou die unie ingelig hy het ’n langdurige kniebesering waarop daar ná vanjaar se Superrugbyreeks geopereer moet word.

“Dit is blatante afpersing,” sê Pieter Burger, uitvoerende hoof van die Pumas.

“As Vincent se kniebesering so ernstig is, hoekom word die operasie uitgestel? Dit is darem maar baie toevallig dat hy ’n tyd langs die kantlyn moet deurbring wanneer hy juis in die Curriebekerreeks vir ons moet speel.”

Die Pumas het inligting bekom dat Koch glo perdfris is en het ’n amptelike mediese verslag by die Stormers aangevra.

“Ons het in Vincent belê toe niemand anders in hom geglo het nie. Dit was die geleenthede wat ons vir hom geskep het, wat hom toegelaat het om te groei,” sê Burger.

“Ons het geen aanspraak op sy toekoms nie, maar ons wil graag net hê hy moet in ’n laaste Curriebekerveldtog iets teruggee aan die plaaslike spelers.”

Die Pumas het reeds twee stutte dié seisoen aan langtermynbeserings afgestaan en benodig Koch se teenwoordigheid

Luidens Netwerk24 se inligting was die Saracens aanvanklik nie eens bereid om ’n oordragbedrag – ’n vereiste vir spelers wat nog onder kontrak is – te betaal nie.

Nadat die Pumas vasgeskop het, is ’n bedrag van sowat R240 000 aangebied.

Die unie se raad het die aanbod onmiddellik afgekeur.

“Gesoute vaskopstutte is een van die skaarsste spelers in Suid-Afrikaanse rugby. R240 000 vir ’n Springbokstut is belaglik,” sê Burger.

“Jy kan nie ’n mededingende kopie daarmee in die mark maak nie.”

Van der Merwe het bevestig Koch sal eers aan die einde van die Suid-Afrikaanse rugbyseisoen na Brittanje vertrek.

“Ons het die moontlikheid bespreek dat Vincent vroeër vrygestel word, maar die oordragfooi is nie ooreengekom nie,” sê hy.

“Ons wag vir die Pumas om weer in verbinding met ons te tree.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.