Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koebaai, Cheeky
Cheeky Watson. Foto: GALLO IMAGES
Willem Oliphant.

Cheeky Watson se dae as president van die Oostelike Provinsie Rugbyunie blyk getel te wees.

’n Mosie van wantroue gaan op 30 Januarie teen hom ingestel word, met een van Port Elizabeth se bekendste rugbyseuns, Willem Oliphant, wat dan op dié unie se uitgestelde jaarvergadering die oorgrote meerderheid van die klubs se steun as sy opvolger kan kry.

Ná die laaste tyd se skandes onder Watson se leierskap, wat yslike geldprobleme insluit, sê ’n ingeligte die Oos-Kaapse rugbybaas kan daarvan vergeet dat hy Oliphant in ’n stemmery sal klop, soos die geval verlede jaar was toe hy Eben Coltman uitgestof het.

Watson het tóé 219 stemme ingesamel om as president te oorleef.

Watson én sy uitvoerende bestuur het sedertdien glo die steun en vertroue van die klubs verloor – en verandering word nou as die enigste weg vorentoe beskou.

Oliphant het dit egter duidelik gestel dat hy nie in ’n swartsmeerveldtog teen Watson belang stel nie, maar eerder al sy aandag daarop wil vestig om rugby in die Oos-Kaap reg te ruk.

“Die eerste en belangrikste verandering wat ek sal maak, is om afsonderlike borge vir ons professionele kant en amateurs (klubrugby) te vind. Ons moet klubrugby in die streek weer reg­ruk,” sê Oliphant.

“Borge staan reeds tou om betrokke te raak, sou ek verkies word. Dis nie net praatjies nie, maar die waarheid.”

Oliphant se CV lyk indrukwekkend.

Hy is ’n ware OP-rugbyman en het die nodige sakevernuf wat tot die streek se voordeel kan strek. Hy sal ook Saru se steun hê.

“Dit was aanvanklik ’n uitdaging waarby ek nie betrokke wou raak nie. Maar vandat ek gesien het hoe mense sonder salarisse moet sukkel, is dit my passie om betrokke te raak en ’n verskil te maak.

“Ons kan nie só aangaan nie. Ek het nou amptelik begin om ’n verskil te probeer maak. Ek gaan myself beskikbaar stel om die OP-Kings na nuwe horisonne te lei.

“Ons benodig nou eerlikheid in die unie – en dís waarna ek streef.”

Oliphant het in Despatch grootgeword waar sy pa, Willem, die bestuurder van die Despatch-klubspan met sterre soos Danie Gerber en Frans Erasmus in sy geledere was.

Nadat hy sy unie op skolevlak verteenwoordig het en later flank vir Despatch gespeel het, het hy homself as ’n administrateur en sakeman bewys.

Hy is onder meer in 2008 die eerste keer as die Junior Bokke se spanbestuurder aangestel. In 2012 het Saru hom genader om die Southern Kings se spanbestuurder in die Superreeks te word.

Onder Oliphant se presidentskap het Despatch ook in 2013 die Gemeenskapbeker, Saru se nasionale klubtoernooi, gewen.

  • Die Suid-Afrikaanse Rugbyspelersvereniging (Sarpa) het intussen die afgelope week ’n skrywe aan die OP-Kings-spelers gerig waarin hulle geskenkkaarte vir kos en brandstof aanbied.

Sarpa het ook die name van ’n prokureur en ’n sielkundige, waarvan hy die koste sal betaal, aan die spelers gestuur om hulle deur die moeilike tye te help.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.