Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koes Wallabies, Coenie is gereed!

Die Springbokke se skrumafrigter, Matt Proudfoot, het Dinsdag met die breedste glimlag in Perth rondgeloop nadat Coenie Oosthuizen fiks verklaar is vir Saterdag se Rugbykampioenskap-toets teen die Wallabies.

Coenie Oosthuizen en die Springbokke mag maar breed glimlag, nadat die vaskopstut Dinsdag gehoor het hy mag Saterdag die Wallabies pak. Foto: Gallo Images

Twyfel het oor sy vaskopstut se beskikbaarheid bestaan nadat Oosthuizen sy ribbes teen Argentinië in Salta beseer het. Die Bokke se spandokter, Konrad van Hagen, het voordat die Suid-Afrikaners na Australië vertrek het, gesê Oosthuizen moet eers sonder ongerief in Perth oefen voordat hy oorweeg kan word.

“Coenie is reg,” het Proudfoot Dinsdag ná die Bokke se oefening bevestig.

Sy beskikbaarheid is van groot belang vir die Suid-Afrikaanse span nadat die Bokke veral vanweë sy goeie werk aan die vaskopkant die Argentynse skrum die eerste keer in jare geboelie het. Die Bokke se diepte op vaskop is ook uitgedun met Frans Malherbe se nekbesering.

Proudfoot is nie net verheug daaroor dat Oosthuizen reg is nie, maar ook oor hoe hy vanjaar skrum.

“Ons en die Haaie het met ’n plan vir Coenie vorendag gekom. Voordat hy verlede jaar ’n nekoperasie ondergaan het, het ons dit met Coenie bespreek. Ons het met hom gepraat oor sekere dinge wat hy moes verbeter,” het Proudfoot gesê.

“Hy het ses maande gehad om daaraan te werk. Een van die veranderinge wat sy skrumwerk verbeter het, is sy linkerskouer wat nou meer prominent is – basies meer in lyn met sy regterskouer voordat hy inslaan.”

Elke vaskopstut is nie ryp op 25-jarige ouderdom nie. Sommiges, soos Coenie, bereik eers volwassenheid op 28.

Voorheen was sy regterskouer voor sy linkerskouer, terwyl hy volgens Proudfoot albei sy skouers benodig om sekere ruimtes aan te val.

“Sy bindwerk het ook verbeter. Een ding van Coenie is dat hy buitengewoon sterk is. En hy het net so ’n sterk persoonlikheid. Dis eienskappe van ’n goeie vaskopstut.

“Coenie is selfversekerd. Jy kan dit hoor as jy met hom praat. Elke vaskopstut is nie ryp op 25-jarige ouderdom nie. Sommiges, soos Coenie, bereik eers volwassenheid op 28. Nietemin is hy steeds gretig om te leer en te verbeter.”

Proudfoot verwag dat Oosthuizen-hulle behoorlik deur die Wallaby-skrum getoets sal word. Die Wallabies se skrumwerk het, volgens die Bokke se skrumafrigter, ondanks hul geploeter teen die All Blacks verbeter in sekere tegniese aspekte.

Hy verwag ook nie dat Stephen Moore se afwesigheid hulle sal verswak nie.

“ ’n Mens moet onthou die All Blacks het ’n kragtige skrum. Ek dink Tatafu Polota-Nau sal die Wallabies se skrum versterk. Hy skrum veral aggressief op die teenstander se bal. Hulle verloor Stephen se leierskap vir Saterdag se toets, maar kry iets anders by in Polota-Nau se skrumwerk. Hulle sal baie met hul skrumwerk wil verbeter.

“Ons sal hou by wat sover vir ons gewerk het. Ons het wel ’n paar dinge geïdentifiseer waarop ons wil verbeter. Ons verwag ook dat hulle met een of twee nuwighede teen ons vorendag sal kom.”

Met Oosthuizen wat beskikbaar is, kan die insluiting van Pieter-Steph du Toit as vyfslot die enigste verandering aan die Bokke se agttal wees wanneer Allister Coetzee sy 23-tal Donderdag aankondig. Franco Mostert kan weens ’n hoë werklas gerus word.

Meer oor:  Bokke  |  Coenie Oosthuizen  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.