Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koes, WP! Nóg ’n eis is in die pos

Die Westelike Provinsie sal binnekort nog ’n keer na sy asem snak oor ’n eis van miljoene rande. Dit nadat dié rugbyunie die afgelope week vir skadevergoeding van R150 miljoen gedagvaar is.

Zelt Marais sê WP berei voor vir die verdediging teen die skadevergoedingseis.

Rapport verneem WP word deur ’n tweede afsonderlike eis in die gesig gestaar nadat Dream World skadevergoeding van R150 miljoen teen hom ingestel het.

WP se eiendomsooreenkoms met Flyt Property, ’n filiaal van Dream World, is eens as die “deal of the century” beskryf, maar die beëindiging daarvan dreig om in ’n ramp vir die unie te verander.

Die tweede skadevergoedingseis het betrekking op die mislukte herontwikkeling van die Nuweland-stadion en Brookside- eiendomme, en volgens ingeligtes kan dit tot drie keer so groot soos Dream World se eis wees.

Die dagvaarding wat Vrydag by die WP-unie afgelewer is, behels hoofsaaklik die lening van R112 miljoen wat Flyt aan WP toegestaan het om hom uit sy skuld by Remgro en Investec te help.

Die tweede dagvaarding word glo reeds voorberei om die week afgelewer te word.

Zane de Decker, Flyt Property se besturende direkteur, het aan Rapport bevestig ’n tweede eis is op pad.

“Dit is net die Dream World-eis (met betrekking tot die leningsooreenkoms). Flyt sal waarskynlik ook regstappe doen om skade te verhaal,” het hy in ’n teksboodskap gesê.

Die twee dagvaardings bring WP se eiendomme in die gedrang – met Flyt wat verbande op alles hou. Dit kan etlike jare duur om die eise af te handel en dit kan WP se eiendomme bevries hou en sy kontantvloei erg belemmer.

In die ergste scenario kan Flyt sy geld verhaal deur beslag te lê op die eiendomme.

Flyt het die eiendomstransaksie met die WP in Junie verlede jaar gesluit nadat WP op die laaste nippertjie aan ’n ooreenkoms met Investec onttrek het.

Zelt Marais, WP-president, het toe na die Flyt-transaksie as die “deal of the century” verwys.

Die transaksie is deur die trustees en hoofraad bekragtig, maar WP het daarna toe ’n U-draai gemaak en ’n skrywe aan Flyt gerig waarin hulle glo die geldigheid van die transaksie betwis.

Dit het Flyt genoop om regstappe te doen.

Flyt het reeds R110,7 miljoen aan WP voorgeskiet en volgens die leningsooreenkoms moes die WPRU saam met die oorspronklike leenbedrag ’n aanvangskoste van R1,265 miljoen en “ontwikkelingsfooi” van sowat R30,1 miljoen aan Dream World betaal. Die WPRU en sy trustees word nou vir al drie bedrae, plus rente, gedagvaar.

Volgens die dagvaarding beloop rente op die leenbedrag byna reeds R2,4 m.

In die hofdokumente vra Dream World as hy die saak wen, moet die eiendomme wat aan hom as sekuriteit gegee is en waarteen verbande geregistreer is, aan hom oorgedra word.

Marais het by navraag geantwoord WP berei voor vir die verdediging.

“WP weet van die dagvaarding. Dit word deur sy regspan namens WP teengestaan. Die unie verkies om in die stadium geen verdere kommentaar te lewer nie.”

Meer oor:  Dagvaarding  |  Wpru  |  Dream World
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.