SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Kolbe hou lyf All Black teen Bokke
Die Bokke het Cheslin Kolbe op ’n vindingryke manier op die oefenveld ingespan in Wellington. Foto: Getty Images

Cheslin Kolbe is vandeesweek gevra om sy lyf Damian McKenzie op die oefenveld te hou om die Springbokke te help voorberei vir Saterdag se Rugbykampioenskapstoets in Wellington teen die All Blacks.

Die veelsydige McKenzie word as een van die verwoestendste aanvallers in wêreldrugby beskou. Hy is op sy gevaarlikste in daardie laaste 20 minute van toetse wanneer teenstanders se bene moeg raak. Die All Black-afrigter, Steve Hansen, het hom as plaasvervanger gekies en beoog waarskynlik ’n belangrike rol as impakspeler vir hom.

Die vlugvoetige Damian McKenzie laat spaander met die bal in verlede week se toets teen Argentinië. Foto: Getty Images

Rassie Erasmus, die Bok-afrigter, het in Donderdag se nuuskonferensie in Wellington waar hy sy 23-tal bekend gemaak het, geskerts een manier om McKenzie te neutraliseer is as die Bokke hoop vir baie reën en sterk wind.

“Cheslin is egter ’n soortgelyke speler as Damian,” het die Bok-afrigter gesê.

“Ons het die hele week teen Cheslin geoefen. Ons kan egter nie al ons aandag net op Damian rig nie, anders gaan ander spelers ons afslag.

“Hy sal wel mooi dopgehou moet word. Almal weet hy kan goed systap, het ’n giftige vaartversnelling en gee slim lugskoppies. Ons het goed voorberei vir hom. Hopelik kan ons hom in toom hou.

“Damian is ’n wonderlike speler. Hy skakel naatloos op losskakel en heelagter in. Die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NSRU) verdien krediet vir hoe hulle hom bestuur het. Hulle het hom eers op heelagter gekies. Toe het hulle sekere van sy vaardighede gesien en hom later op losskakel in sekere toetse speelkans gegee. Selfs sy franchise het hom op losskakel gekies.

“Die wyse waarop hulle hom (deur die jare) vir toetsrugby gespeen het, is wonderlik.”

Kolbe (1,72 m en 74 kg), wat weer as ’n plaasvervanger gekies is vir die wedstryd in die Westpac-stadion, kan in die verwagte droë toestande waarin die toets sal plaasvind deur sy afrigter gevra word om ’n soortgelyke taak as McKenzie (1,77 m en 78 kg) in daardie deurslaggewende laaste paar minute van die toets te probeer verrig.

Toe Erasmus bevestig het Jesse Kriel is in die beseerde Makazole Mapimpi se plek as regtervleuel gekies, het hy erken Kolbe sal die naweek vir die Bokke van meer waarde as ’n impakspeler wees.

“Jesse het al vleuel gespeel en ken die stelsel baie goed. Lukhanyo Am speel goed op 13. Ons het gedink dit (Jesse se insluiting op vleuel) sal die minste ontwrigting aan die span wees. Jesse ken ons stelsel baie goed.

“Dit was eintlik nie ’n moeilike keuse nie. Cheslin was die ander speler wat ons op vleuel oorweeg het, maar ons het gevoel hy was nog net vyf of ses dae deel van die stelsel. Cheslin sal vir ons meer as plaasvervanger beteken.”

Kriel self is opgewonde oor sy insluiting op vleuel.

“Ek het al voorheen op vleuel gespeel, al is dit nie so gereeld as op senter nie. Ek is net bly oor die kans. Nieu-Seeland is altyd ’n groot uitdaging.

“Rieko Ioane (sy regstreekse teenstander) is ’n speler van wêreldgehalte. Maar ons wil almal weekliks teen die beste te staan kom. Dis tog waaroor toetsrugby gaan.”

Kriel, as die Bokke se voorste verdediger, is nie net doelbewus gekies om Ioane hok te slaan nie, maar die Bok-kamp is ook bewus van Beauden Barrett se gevaarlike skop-aangeë na Ioane, waarmee die All Blacks al verskeie teenstanders ore aangesit het.

Die Springbokke verwag dat die All Black-losskakel Beauden Barrett weer die bal met skop-aangeë by sy vleuels sal probeer kry. Foto: Getty Images

Kriel (1,86 m en 95 kg), wat lank getob het of hy heelagter moet speel voordat hy hom op buitesenter gevestig het, se grootte, lengte en lugspel sal hopelik as ’n teenvoeter vir Barrett se goed berekende skop-aangeë aan Ioane (1,89 m en 102 kg) dien.

Erasmus het beklemtoon die beseerde regtervleuels, Mapimpi en S’bu Nkosi, bly deel van die Bokke se toekomsplanne.

“Dit was in hul afwesigheid egter nie vir ons die moeite werd om ’n spesialis-vleuel in te vlieg nie, aangesien hy eers Woensdag hier sou aankom.”

Erasmus het toe hy sy span aangekondig het, gesê hy leer ná sewe toetse steeds nuwe dinge oor sy spelers. Hy het bevestig dat hy sy sterkste beskikbare span vir die toets gekies het, met veranderinge op haker, losskakel, buitesenter en vleuel in sy beginspan.

Malcolm Marx en Handré Pollard vervang onderskeidelik vir Bongi Mbonambi en Elton Jantjies in die beginspan. Met Kriel wat na regtervleuel skuif in die beseerde Mapimpi se plek, begin Am op buitesenter.

Erasmus sê hy het Pollard vanweë sy fisiekheid, grootte en direkte spel gekies. Hy glo die Bokke sal dít teen die All Blacks benodig.

“Ek dink ook Handré speel al van 18-jarige ouderdom teen die Nieu-Seelanders. Hy is gewoond aan daardie druk.”

Rugbykampioenskap: Bepalings

Rugbykampioenskap: Puntelys

Rugbykampioenskap: Uitslae

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Bokke  |  Toetsrugby  |  Rugbykampioenskap  |  Springbokke  |  Rassie Erasmus  |  All Blacks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.