Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kolbe se Bok-debuut nie sy laaste lag

Dit is nie net Rassie Erasmus wat die afgelope jaar die waarde en talent van Cheslin Kolbe raakgesien het nie.

Cheslin Kolbe
Cheslin Kolbe van Toulouse verlede week in aksie teen Bath.

Die beoordelaars van die Heineken-beker se Europese Speler van die Jaar, het dié Bok ook vir sy vertonings vereer deur hom as een van hul 15 benoemdes vir dié prys aan te wys.

Kolbe se skitterspel vir sy Franse klubspan, Toulouse, het wyd koppe instemmend laat knik dat hy een van die blink sterre van die Europese seisoen is.

Maar vir Kolbe het dié verering uit die bloute gekom.

Hy het aan Rapport gesê hy het maar Vrydag heel toevallig gehoor hy is een van die benoemdes.

“Ek het nie daarvan geweet nie en dit was eers toe een van die agterlynafrigters my gelukwens, dat ek die nuus gehoor het.

“Ek het nie geweet waarvan hy praat nie. Maar dis wonderlik en iets baie spesiaals,” sê Kolbe.

Sy benoeming as een van 15 kandidate vir die eerbewys kom ná ’n wonderjaar vir die oud-Stormers-vleuel. ’n Ander hoogtepunt was sy verrassende insluiting in die Springbok-groep vir die Rugbykampioenskap.

“2018 was ’n ongelooflike jaar vir my. Ek dink ek moet krediet gee aan Toulouse, want my medespelers het vir my baie geleenthede geskep. Sonder hulle sou dit nie moontlik gewees het nie.

“Dit is ’n jaar wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was ’n jaar waarin ek my droom kon verwesenlik om vir die Springbokke te speel.

Dit is ’n jaar wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was ’n jaar waarin ek my droom kon verwesenlik om vir die Springbokke te speel.

“Dit was iets waaroor ek al lankal gedroom het en hopelik sal daar baie meer toetse wees.”

Oor sy Bok-plek vertel Kolbe dat hy uit die veld geslaan was toe hy die nuus gehoor het.

“Ek het by die klub aangekom op pad na ’n vergadering toe die hulpafrigter na my toe kom en sê ‘nou kan jy vir my ’n bietjie biltong terugbring’.

“Ek het nie besef wat hy daarmee bedoel nie, veral omdat ons beplan het om eers in Oktober terug Suid-Afrika toe te gaan. Toe sê ek vir hom my vrou gaan in Oktober terug en ek sal haar vra om ’n bietjie biltong te bring. Hy het my toe net snaaks aangekyk.

“Toe kom die afrigter ingestap en gee my ’n kyk. Ek het gewonder of ek iets verkeerd gedoen het. Ná ons vergadering het die afrigter my ingeroep en vir my gesê ek is gekies om vir die Springbokke te speel. Ek het oorbluf daar gestaan en vir hom gesê ‘asseblief, moenie met my spot nie’. Ek het gedink ‘jinne hierdie kan nie werklik wees nie’.

“Toe ek destyds Frankryk toe is, was my droom vaag om vir die Bokke te speel. Ek het daarvan bly droom, maar ek het gedink dis ’n skrale kans.”

Anders as in Suid-Afrika waar Kolbe se kleiner liggaamsbou kritiek ontlok het, is dit in Frank­ryk nie eens ’n kwessie nie.

Daar, sê hy, fokus hulle veel eerder op wat hy vir die span kan bied, as hoe klein van postuur hy is.

Meer oor:  Cheslin Kolbe  |  Rassie Erasmus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.