Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Kolbe witwarm maar Pollard die man'

Verwag vuurwerk van Cheslin Kolbe, maar Bryan Habana voorspel dat Handré Pollard die speler van die toernooi in die Wêreldbeker sal wees.

Bryan Habana besing Handré Pollard se lof. Foto: Getty Images

“Cheslin het oor die afgelope 18 maande die veld aan die brand gespeel,” het Habana in ’n onderhoud aan foxsports.com.au gesê.

“Hy (Cheslin) is ’n puik voorbeeld van dinamiet kom in klein pakkies. Maar Handré speel werklik uitsonderlike rugby die afgelope jaar. Hy het in statuur gegroei.

“Hy is altyd beskou as iemand wat ’n Bok-grote kan word. Sy leierskap en wat hy die afgelope tyd vermag het. Sy vaardighede. Doelskoppe. Die wyse waarop hy die voordeellyn aanval.

“As jy na die geskiedenis van die Wêreldbeker kyk, benodig jy ’n goeie nege-en-tien-kombinasie.

“As jou losskakel briljante rugby speel, begin die span skielik goed lyk. Handré is ’n speler wat ongelooflik oor die afgelope paar maande gegroei het.”

Habana gee die Bokke ’n goeie kans op sukses in rugby se skouspel. Hy het hulle as sy moontlike wenner gekies toe hy die vraag gevra is.

“Met die belofte wat die Bokke in die Rugbykampioenskap getoon het en die diepte in die groep het hulle ’n fantastiese kans om goed in Japan te vaar.

“Bygesê, Nieu-Seeland is die gunstelinge. Engeland speel uitstekende rugby onder Eddie Jones wat ongelooflike kennis van Japanse rugbystrukture het en groot waarde tot die Engelse span kan toevoeg.”

Cheslin Kolbe is ’n puik voorbeeld van dinamiet wat in klein pakkies kom. Foto: Getty Images

Verskeie ander bekendes steun Habana se mening dat die Bokke die Wêreldbeker kan wen.

Sam Warburton, die voormalige Walliese en Ierse en Britse Leeus-kaptein, voorspel die halfeindstryde sal tussen Nieu-Seeland en Engeland en Suid-Afrika teen Wallis uitgespook word.

“Ek weet ook dit kan net so maklik nie die geval wees nie,” het Warburton gesê.

“Ses spanne kan dit wen met Australië en Ierland die ander twee.

“As ’n geweer teen my kop gehou word om te sê wie sal wen, sal ek Suid-Afrika sê. As hulle kophou, glo ek dat hulle ’n paar mense sal verras.”

Handré Pollard is ’n speler wat ongelooflik oor die afgelope paar maande gegroei het. Foto: Getty Images

Lawrence Dallaglio, ’n voormalige Engelse kaptein, glo die Bokke het die skietgoed om goed te vaar.

“As ek geld moes verwed op die wenner, sou dit moeilik wees om dit nie met die wedsyfers op Suid-Afrika te plaas nie aangesien dit die span met momentum is,” het Dallaglio gesê.

“Maar Nieu-Seeland is die dubbele kampioen en almal moet hulle kies. Om dié rede sal ek sê Nieu-Seeland.”

Gavin Hastings, ’n voormalige Skotse agterspeler en ’n gewese kaptein van die Britse en Ierse Leeus, kies ook die Bokke.

“Goeie genugtig. Ek wil nie die konvensionele roete volg nie. Kom ons sê Suid-Afrika,” het Hastings gesê.

Will Greenwood, ’n voormalige Engelse senter en wenner van die Wêreldbeker in 2003, reken Nieu-Seeland, Suid-Afrika, Engeland en Wallis sal in die halfeindstryde betrokke wees.

“Dit gaan ’n eindstryd tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika wees,” het Greenwood gesê.

“Wat ek die afgelope ses maande gesien het, kies ek Suid-Afrika.”

Greenwood glo een van Faf de Klerk, Pollard, Eben Etzebeth of Siya Kolisi sal die speler van die toernooi wees.

“Wel, ek sal klein Faf de Klerk kies.”

Brian O’Driscoll, ’n voormalige Ierse senter en die voormalige Engelse losskakel, Jonny Wilkinson, kies Engeland as die span wat die Wêreldbeker omhoog sal hou.

Wilkinson beskou Nieu-Seeland wel as die gunsteling en beskryf die Bokke as ’n gevaarlike span.

Meer oor:  Bokke  |  Bryan Habana  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  All Blacks  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.