Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kolisi: ‘Die ouens het my aangevuur’

Die Stormers se drie ná die rustyd-sirene met Siya Kolisi uit op sy voete agter die doellyn, het gewys hoe roeserig die Kapenaars nog is.

Maar dat hulle die Leeus Saterdagaand op Loftus Versfeld met 34-21 (rustyd 20-7) geklop het, wys dat hulle ’n span is wat vir mekaar speel – maak nie saak hoe moeg hulle is nie.

Die Stormers se kaptein, Siya Kolisi, druk sy drie kort voor rustyd. Foto: Gallo Images

Die drie van Kolisi, die Stormers se kaptein, was deurslaggewend in ’n tyd voor rustyd waar sy span die Leeus in ’n wurggreep gehad het. Het die Johannesburgers daarin geslaag om die aanslag voor rustyd af te weer, kon sake dalk anders op Loftus geëindig het.

Die Bok-kaptein het Saterdagaand gebieg hy het so amper die bal by die kantlyn uitgeskop net voor rustyd toe sy span verwoed aangeval het, maar hy was aangevuur om te gaan druk.

“Ek het amper uitgeskop en Herschel (Jantjies, Stormers-skrumskakel) het aan my geskree ‘is jy mal’,” het Kolisi agterna gesê.

“Ek is aangevuur deur die ouens om my wat so gespeel het en die manier waarop ons gegaan het vir daardie drie. Ons kon so maklik die bal uitskop. Daar het nie veel deur my gedagtes gegaan toe ek gaan druk het nie, maar ek het geweet iets moet gebeur. Ons was al deur soveel fases.”

Die hele week het die Stormers gepraat oor hoe hulle sal moet aanpas in die dun lug, harder veld en hitte wat op hulle in Gauteng gewag het. Die spelers is tydens oefening omtrent hard gedruk tot op ’n punt waar hulle gesukkel het om by te hou.

Daardie drukkoker-oefensessies het Saterdag rente getrek toe hulle die Leeus, wat veel beter daaraan toe is in die toestande, opgefrommel het, veral in die skrums.

John Dobson, Stormers-afrigter, se Springbok-voorry was gans te goed vir wat die Leeus aan hulle as teenstanders gebied het. Natuurlik was dit ’n agtman-vertoning wat die skrums van die Stormers vorentoe gevat het, maar Frans Malherbe as vaskop, saam met die haker, Scarra Ntubeni, en Steven Kitshoff as loskop het die oorheersing in die skrums geanker.

Dobson het agterna gesê hy wil ook sien dat sy span minder op hul skrum steun en elders ook toeslaan. Daar is veral in die eerste helfte ’n bietjie gesukkel om ’n vonk op die aanval te verskaf.

“Ek is egter beïndruk met hoe die ouens in die tweede helfte verdedig het. Ons verdediging was in albei helftes baie goed. Ons het fantastiese Springbokke wat ’n Wêreldbeker gewen het, maar ook die jongelinge wat goed deurkom. Daar is baie vir ons om oor hoopvol te wees.”

Die Leeus het eerste toegeslaan met ’n prag dwarsskop van Elton Jantjies wat tot die eerste drie gelei het. Dít ná ’n swak skrum waarin sy pak voorspelers agtertoe gegaan het. Die Bok-vleuel Courtnall Skosan het die skop uit die lug gevat en oorgehardloop vir die vyfpunter.

Tot in die 58ste minuut van die wedstryd moes die Leeus wag vir hul tweede drie.

Dit dui ook op hoe goed die Stormers-verdediging was. Strykdeur die kragmeting is die Leeus met mening teruggeduik en al was die Kapenaars hoe moeg, het hulle aanhou verdedig. Dit het weliswaar tot in die 78ste minuut gevat om die wedstryd te verseker, maar die nekslag is reeds in die eerste helfte toegedien.

Die Leeus se jongelinge het ook gewys dat daar hope rugby in hulle steek. Terwyl hulle net sewe punte in die eerste helfte kon aanteken, het die plaasvervangers die lewe moeilik kom maak vir die Stormers en twee verdoelde drieë gedruk om binne trefafstand te kom.

Gianni Lombard het as losskakel die Leeus-agterlyn aan die gang gekry, terwyl die voorspelers ook beter gevaar het in die skrums.

Ivan van Rooyen, afrigter van die Leeus, het agterna gesê dit was lekker om terug op die rugbyveld te wees, maar dat hulle dit veel eerder met ’n sege sou wou doen.

“Dis duidelik dat ons vaste fasette nog werk kort, Hulle het ons daar onder druk geplaas,” het Van Rooyen sy span se gesukkel in veral die skrums opgesom.

“Op die verdediging het ons ook druk op hulle geplaas, maar ons het hulle met een of twee sagte oomblikke laat wegkom. Ons het ’n bietjie roeserig gelyk. Daar was vooraf besluit dat die een span 50 minute sou speel en die ander vir 30 minute. Die tweede span het die energie en pas goed opgetel in die tweede helfte.”

Dobson en Van Rooyen sal vandeesweek moet klaarkom sonder ’n rits spelers wat aan die Groen teen Goud-wedstryd deelneem. Dit gee hulle dan maar min tyd om voor te berei vir die plaaslike rugbykompetisie wat aanstaande week afskop.

Puntemakers:

Stormers 34 (20): Drieë: Dan du Plessis, Scarra Ntubeni, Siya Kolisi, Warrick Gelant, Paul de Wet. Doelskoppe: Damian Willemse (2), Tim Swiel. Strafdoel: Willemse.

Leeus 21 (7): Drieë: Courtnall Skosan, Jamba Ulengo, MJ Pelser. Doelskoppe: Elton Jantjies, Manuel Rass (2).

Meer oor:  Stormers  |  Leeus  |  Pretoria  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.