Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Kolisi is kaptein, nie swart kaptein'

Hoewel hy nog relatief onervare is as ’n toetskaptein, glo Odwa Ndungane dat Siya Kolisi suksesvol in dié rol gaan wees by vanjaar se Wêreldbeker-toernooi in Japan.

Ndungane (38) het in nege toetse gespeel en was deel van die Springbok-span van 2007 wat die Webb Ellis-trofee ’n tweede keer gewen het toe hy Engeland in die eindstryd met 15-6 in Frankryk geklop het.

Siya Kolisi staan die media Maandag te woord by ’n nuuskonferensie in Kagosjima. Foto: Gallo Images

Hy was ook deel van 2011 se WB-groep.

“Ek dink hy gaan goed vaar in Japan as kaptein. Die goeie ding vir hom is dat hy in ’n wen-omgewing is. Die spelers se selfvertroue is hoog en hy is deel van ’n opset waarin dit goed gaan,” sê Ndungane.

Die Bokke is vanjaar nog onoorwonne en het boonop verlede week ’n oortuigende oorwinning oor die gasheernasie, Japan, in hul finale opwarmingstoets behaal.

Dit was Kolisi se eerste toets waarin hy kaptein was vanjaar, nadat hy onlangs eers van ’n kniebesering herstel het.

Ons moet nog ’n kind van Afrika vier wat die Wêreldbeker saam met Suid-Afrika wen.

Hy het sy terugkeer teen Argentinië gemaak op Loftus Versfeld, maar Schalk Brits het tóé die Bokke aangevoer.

“Die span hou van hom en ek glo almal is bly dat hy daar is. Siya is byvoorbeeld ’n ander soort kaptein as John Smit, wat woorde gebruik om die span te motiveer. Siya gebruik sy persoonlikheid en lei met voorbeeld; dit bring mense byeen.”

Hy sê wat ook in Kolisi se guns tel, is dat die Bok-afrigter, Rassie Erasmus, vertroue in hom het.

“Daarom dink ek nie daar is te veel druk op Siya nie. Ek hoop hy kan al die pad gaan en vir ons die Wêreldbeker terugbring Suid-Afrika toe.”

Odwa Ndungane tydens die Wêreldbeker-toernooi in Wellington, Nieu-Seeland in 2011. Foto: Getty Images

Suid-Afrika open sy veldtog op 21 September teen Nieu-Seeland in Jokohama.

Dit sal Kolisi se eerste werklike toets vanjaar wees. Ndungane glo die feit dat Kolisi nie in die Rugbykampioenskap gespeel het nie, behoort nie teen hom te tel nie.

“Hy sou homself geestelik voorberei het vir wat voorlê.

“Maar die feit dat hy in daardie omgewing was, was goed vir hom – hy het in Johannesburg (in die toets teen die Wallabies) die water aangedra en hy was betrokke by al die vergaderings.

“Dis nie dat hy nié betrokke was nie, hy was deel van alles. Ek glo nie dit sal enige invloed hê op hoe hy in daardie wedstryd sal vertoon nie, en ek hoop hy kan 60 of selfs 80 minute speel.”

Hy is dit eens dat Suid-Afrika Kolisi nie as ’n “swart kaptein” nie, maar as ’n “kaptein” gesien moet word. Hy sê in 2019 moet daar nie swart of wit gesien word nie, net Springbokke.

“Dit is wel goed dat hy die eerste swart kaptein kan wees wat moontlik die Wêreldbeker kan wen, maar dis nie wat ons behoort te vier nie. Ons moet nog ’n kind van Afrika vier wat die Wêreldbeker saam met Suid-Afrika wen.”

Ndungane glo die Springbokke het ’n baie goeie kans om die toernooi te wen, omdat hulle vol selfvertroue in Japan aangekom het.

“Ek gee nie om dat daar gesê word die span wat die Rugbykampioenskap gewen het geen kans om die toernooi te wen nie. Ek dink die selfvertroue en die momentum waarmee ons Wêreldbeker toe gegaan het, die fyn beplanning en die aandag aan detail deur Rassie Erasmus, gaan ons dryf.”

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.