Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kolisi: Japan gaan Bokke nie weer só vang

Hy vra graag raad by ander senior spelers en leiers in die span, maar Siya Kolisi weet as dinge op die veld skeefloop, is hy alleenlik daarvoor verantwoordelik.

Daardie aanspreeklikheid is nie iets wat die Springbok-kaptein bang maak so aan die vooraand van die Wêreldbeker-toernooi in Japan nie.

Kolisi het verlede week weer benadruk dat die teenwoordigheid van ander leiers soos Duane Vermeulen, Handré Pollard, Beast Mtawarira en Eben Etzebeth, onder andere, vir hom baie selfvertroue gee.

Siya Kolisi, die Bok-kaptein, sê die vertroue wat Rassie Erasmus (regs, Bok-breier) in hom stel, gee vir hom baie selfvertroue. Foto: Deaan Vivier

“Die ouens is altyd bereidwillig om te help. Die belangrikste is dat die span wen,” sê die flank.

“Ek het geen ego nie, as iemand anders beter as ek in iets is, sal ek hulle toelaat om leiding te neem.

“Ek is ook nie bang om planne te verander as iemand anders ’n beter idee het nie. Dit is hoe die kultuur en gees in die span is. Ons maak staat op mekaar se sterkpunte.

“Daar is baie leiers in die span en ons is bereid om mekaar te ondersteun.”

Maar wat gebeur as daar moeilike besluite geneem moet word?

“Dan sal ek daardie besluite neem. Ek weet die afrigter sal my ondersteun in daardie besluite,” sê hy.

“As ek raad nodig het, sal ek met die groep praat. Maar ek weet ek sal moet pa staan vir daardie besluite. Ek is nie bang daarvoor nie.”

Hoewel ’n kniebesering die kaptein se deelname aan die WB-toernooi in die gedrang geplaas het, sê Kolisi hy is vol vertroue dat hy slaggereed sal wees vir die eerste wedstryd op 21 September teen die All Blacks in Jokohama. Trouens, die kans bestaan dat hy Vrydag reeds naby aan 80 minute se speelkans in die opwarmwedstryd teen Japan kan kry.

“Ek was baie bekommerd oor die tyd wat uitloop en ek het baie druk gevoel,” erken hy.

“Gelukkig was ek saam met die groep totdat hulle vir oorsee vertrek het (vir die wegwedstryde teen Nieu-Seeland en Argentinië in die Rugbykampioenskap)

“Ek het gekyk hoe die bewegings uitgevoer word en ek was in vergaderings, so ek was baie betrokke. Dit was net ’n kwessie van tyd om te wag en sien hoe die knie hou.

“Ek was tevrede met hoe ek gespeel het teen die Poemas (in die toets op Loftus Versfeld), maar ek het nog ’n bietjie speeltyd nodig.”

Kolisi glo die Bokke se vaste fasette en groot voorspelers gaan die sleutel hou as hulle Vrydag die bordjies teen Japan wil verhang.

Die Bokke wil dan in die Kumagaya-stadion vergoed vir die skoknederlaag wat die Kersiebloeisels hulle by die WB-toernooi in 2015 toegedien het.

“Ons moet nie ingetrek word in die los wedstryd wat hulle gaan wil speel nie, want dit is hoe hulle ons laas geklop het,” sê Kolisi.

“Ons moet hulle respekteer, want hulle verdien agting. Maar ons moet by ons strukture hou.”

Meer oor:  Bokke  |  Toetsrugby  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Rassie Erasmus  |  Wêreldbekerrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.