SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Rugby
Kolisi ‘kan rustig slaap’ oor biografie

Hy het hom in die openbaar van ’n boek oor sy lewe gedistansieer, maar Siya Kolisi het niks om te vrees oor wat daarin staan nie. Inteendeel, die Springbok-kaptein sal dit as lekker leesstof ervaar, meen die skrywer van Siya Kolisi: Against all odds, Jeremy Daniel.

Kolisi het Woensdagaand in ’n twiet op die Springbokke se Twitter-rekening gesê dat die boek nie met sy toestemming gepubliseer is nie en dat hy ook nie daarvan kennis gedra het nie. Hy wou geen verdere kommentaar lewer nie.

Die dekblad van die boek oor sy lewe, wat die Springbok-kaptein, Siya Kolisi, onkant betrap het. Foto: Verskaf

Volgens Daniel het hy voorheen kinderboeke oor sporthelde geskryf. “Siya was onder hulle en ek het gedink dat ek met die Wêreldbeker-toernooi om die draai die storie na ’n wyer gehoor toe kan neem.”

Daniel het onder meer besoek afgelê aan Zwide, die Oos-Kaapse township waar Kolisi grootgeword het en wyd gepraat met mense wie se paaie met dié rugbyster s’n gekruis het.

“Die interessante ding is dat niemand enigiets slegs oor Siya te sê gehad het nie. Almal praat met groot liefde en respek oor hom. As jy dit lees, sal jy besef dis ’n viering van sy lewe,” sê Daniel.

Dié outeur sê egter sy uitgewer, Jonathan Ball Publishers, was lank in kontak met Kolisi se agente en dit sal hom verbaas as die Bok-kaptein nie daarvan geweet het nie.

Toe hy die boodskap kry dat ’n outobiografie ontydig sou wees het Daniel besluit om ’n ongemagtigde biografie te skryf.

Netwerk24 het betroubaar verneem dat Kolisi beplan het om later vanjaar ’n outobiografie te publiseer, maar daar is sprake dat daardie projek moontlik vir eers van die baan is.

Daniel verwerp kritiek dat hy met sy boek opportunisties was in die aanloop tot die WB-toernooi.

“Ek het ’n unieke vaardigheid ontwikkel om nie-amptelike boeke te skryf en ek dink nie enigiemand anders doen dit met soveel respek nie,” sê hy.

Daniel sê hy het met die skryf van dié boek ’n “groot ondersteuner” van Kolisi geword.

“Wat interessant is, is dat Siya ’n voorbeeld is van die Suid-Afrikaanse stelsel wat gewerk het. Sy talent is op die regte tyd raakgesien en hy het van skolevlak deur die Westelike Provinsie se Rugbyinstituut gevorder. Daar is baie ouens soos hy wat deur die krake val,” sê Daniel.

“Daar word oor hom in dieselfde asem as Nelson Mandela gepraat in terme van sy vermoë om verandering teweeg te bring in ons land.”

Daniel word deur Jonathan Ball Publishers as ’n skrywer, draaiboekskrywer en musikant beskryf. Hy het die boek My Forever Friend en ook ’n reeks biografieë oor sportpersoonlikhede vir kinders geskryf.



Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Siya Kolisi  |  Biografie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.