Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Span moet aanhangersbetower om unie te red
‘Kom ons maak Loftus weer cool’

Willem Strauss is maar nog net tien weke in die warm stoel as president van die Blou Bulle Rugbyunie, maar hy het klaar groot planne vir die Bulle en hul rugbytuiste, Loftus Versfeld.

Willem Strauss, president van die Blou Bulle Rugbyunie, Vrydag op Loftus Versfeld. Foto: Christian Kotze, SASPA

Strauss is op ’n missie om sy rugbyondervinding van 28 jaar te gebruik om Loftus weer “cool” te maak, om toeskouers terug te lok daarheen, en om die Bulle weer op die wenpad te kry.

’n Prioriteit vir hierdie rugbyman in murg en been is om die Bulle se slegte vertonings en onderprestasie te stuit en om te keer.

Sedert die Bulle die Super-titel laas in 2010 gewen het, was daar vir Bulle-ondersteuners min rede tot vreugde. Die veranderinge en talle herbouingsprosesse rondom die span en op die veld het min dividende opgelewer. In die laaste sewe jaar kon die Bulle nie ’n senior trofee wen nie – nie in enige van die reekse om die Vodacombeker, SuperSport-uitdaagbeker, Curriebeker of die Superreeks nie

En selfs by die juniors, waar daar meer as 150 gekontrakteerde spelers is, het die Bulle maar drie o.21-bekers en net een o.19-beker in sewe jaar huis toe gebring.

“Die laaste sewe jaar was definitief sewe maer jare, maar ek sou nie betrokke geraak het as ek nie gedink het dit kan omgedraai word met ’n suksesvolle einde nie. Dit is ’n ongelooflike handelsmerk. Dit is ’n unie wat 80 jaar oud is en ’n ongelooflike kultuur het. Daar is ikoniese spelers en ’n ikoniese stadion,” sê hy glimlaggend.

Ons is almal onder druk en die modelle van destyds werk beslis nie meer nie.

“Ek dink as ons kreatief kan wees en ’n bietjie uit die boks en innoverend gaan begin dink, is daar geen rede waarom ons nie die skip kan omdraai nie. Ek dink eintlik almal in SA Rugby is in dieselfde bootjie, ál vier die Superreeks-franchises.

“Ons is almal onder druk en die modelle van destyds werk beslis nie meer nie. Ons sal moet gaan kyk na ander modelle en ander maniere om resultate te behaal, anders gaan die resultate onveranderd bly.

“Ons sal na onsself moet kyk, maar in ’n groter prentjie is ons deel van SA Rugby en ek is seker hulle kyk ook na dinge. Rugby is onder druk, en om relevant te bly, gaan ons moet presteer en ’n nuwe mark skep.

“Ons moet nuwe ondersteuners, nuwe kliënte, werf. Maar vir die soveel negatiewe dinge wat daar is, is daar ook positiewe dinge waarop ons kan fokus.

“Ons sit met miljoene mense wat nog nie aan rugby blootgestel is nie. Dit is ’n onontginde mark en dít is een van die uitdagings: om dit te ontgin – sonder die geldelike bronne en sonder om op nasionale televisie te wees.

“Maar ek kyk eerder na die geleenthede. Die pyne gaan jy altyd hê, maar ek hou daarvan om te fokus op die geleenthede en nuwe dinge te inisieer as dit nodig is.”

Strauss is ’n man wat al ’n lang rugbypad stap en hy ken die slaggate. Hy is as ’n 24-jarige groentjie as Suidoos-Transvaal (nou die Poemas) se uitvoerende hoof aangestel. Daarna was hy die rugbypromotor van die @lantic-skole-sewesreeks en talle internasionale wedstryde.

“My belangrikste taak nou is om die trots terug te bring na die Blou Bulle – by toeskouers, by die spelers, by almal. En om van die Blou Bulle weer die vlagskip-unie in Suid Afrika te maak,” sê hy trots.

“Aan die amateurkant het ons reeds ’n paar dinge begin. Ons het die Loftus 200-span teruggebring, ons het die Blou Bulle Platteland-span teruggebring, ons het ’n Platteland-week later in die jaar.

“Die hoofrede is omdat die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) die amateurweek afgeskaf het. Daar is nie meer enige vorm van aanmoediging vir ’n klub om te presteer nie. Ons wil daardie vakuum vul.

“Ek het die Bulle gevat om weer by die klubs te gaan oefen, en dit is ’n reusesukses.

Waarteen ek wel gekant is, is die groot aantal gekontrakteerde spelers wat ons het.
Willem Strauss

“Ons het by een van die klubs meer as 3 000 toeskouers gehad, mense wat 45 minute in ’n tou staan om die professionele spelers se handtekeninge te kry. Die doel is ook om die spelers en die gemeenskappe weer nader aan mekaar te bring.

“Aan die professionele kant het ons ’n paar nuwe strukture op die been gebring – ’n paar komitees wat ouderwets geraak het, is aangepas. Ek wil ons strukture met mekaar belyn. Van laerskool na hoërskool, van hoërskool na klub, van semiprofessioneel tot hoëprestasievlak, van hoë prestasie na die tradisionele spanne. Ons strukture is nie met mekaar belyn nie.”

Strauss glo as almal in dieselfde rigting werk, en die hulpbronne wat die Bulle tot hul beskikking het, reg gebruik, sal dinge beter raak. En dit begin by die kontrakteringsmodel wat in die verlede die Bulle so suksesvol gemaak het, maar deesdae ’n leemte is.

“Vat wat ons by die Bulle het en vergelyk dit met wat die Rebels, die Reds en ander het. Ons het oor die 160 rugbyspelende skole; ons het 40 klubs van hier tot in Limpopo. Daardie spanne het dit nie.

“Aan die amateurkant is ek heel tevrede, want ons het in ’n kort tyd baie dinge in plek gesit.

“Die groter ding is aan die professionele kant. Met die verwisseling het jy geweldige uitdagings ten opsigte van spelers. Net ’n wenkultuur kan daarmee meeding, want dan wil ouens bly, wil ouens betrokke raak. Dit is maar hoe dit werk.

“Waarteen ek wel gekant is, is die groot aantal gekontrakteerde spelers wat ons het. Ons moet vir gehalte gaan. Ons het in beginsel ’n besluit geneem dat ons in die toekoms ’n baie kleiner groep gaan kontrakteer.

“Kom ons noem dit 40/45 spelers waar ál 40 kan Superrugby speel. Die ander spanne moet voedingspanne wees. Ons het genoeg talent in ons klubstrukture om ons SuperSport-span en ons ander spanne se diepte aan te vul.”

Strauss glo die Bulle het klaar ’n generasie toeskouers verloor, maar kan met goeie spanvertonings en ’n beter Loftus-ondervinding mense teruglok.

“As ons kyk na die navorsing wat ons het, is die vertoning van die span die belangrikste. Die kontraktering is ook uitgewys as iets groots, wat hopelik van volgende jaar uitgesorteer sal wees. Die Loftus-ervaring moet iets besonders wees. ’n Begin is die vestiging van die Castle Corner en ons kyk ook na ander goed.

“Ek voel ons het 25- tot 35-jariges verloor. Hulle is besig met ander dinge en kom nie meer kyk nie. Daar is baie redes daarvoor, maar ons navorsing het bewys die span se vertoning is die grootste faktor.

“Die handelsmerk van die spel wat ons speel en die sukses daaraan gekoppel, is wat saakmaak.”

Oor Barend van Graan se aftrede as uitvoerende hoof sê hy: “Barend het diep spore getrap oor die jare en die ou wat by hom gaan oorneem, moet op dieselfde bladsy as ons wees om die nuwe rigting in te slaan. Ons is opgewonde dat ons goeie aansoeke sal kry.”

Vir eers is Strauss aan die planne beraam.

Daarna kom die aksie – op en van die veld – om die Bulle weer ’n kampioenkudde te maak en Loftus ’n geesvangplek vir Bulle-ondersteuners.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.