Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kommer oor Trevor se knie voor toets
Daar is kommer of die sterk stut Trevor Nyakane betyds van ’n seer knie gaan herstel vir Saterdag se toets teen die All Blacks. Foto: Gallo Images

Trevor Nyakane oefen nog nie saam met sy spanmaats nie.

Hy het, terwyl die Springbokke vanoggend in die Japanse klubspan, die Shining Arcs, se gimnasium gesweet het, op sy eie om die klub se twee netjiese rugbyvelde gedraf. Sy beseerde knie was stewig verbind.

“My knie voel goed,” het Nyakane ná sy oefensessie aan ’n handvol Suid-Afrikaanse rugbyskrywers gesê.

“Alles is op koers. Ons hanteer dit dag vir dag. Ek sal môre weer op my eie onder die toesig van een van ons fisioterapeute hardloop, waarna ek weer hopelik saam met die span sal oefen.”

Die Bokke se oefensessie in die gimnasium het ook ’n paar Nieu-Seelandse joernaliste gelok wat hier in Tokyo Bay voor Saterdag se Wêreldbeker-groepwedstryd in Jokohama tussen Suid-Afrika en die All Blacks tuisgaan.

Die 30-jarige Nyakane het sy knie in 6 September se toets teen Japan beseer, waarna hy vir die geboorte van sy dogter, Tando, huis toe gevlieg het.

“Dis ’n ongelooflike gevoel om pa te wees. Ek kan nie glo dat ek iemand wat ek slegs ’n paar dae ken so baie mis nie. Dis wonderlik om ’n pa te wees.

“Ek moet erken dit was moeilik om my dogtertjie in Suid-Afrika te groet. Maar ek besef ook sy wil hê haar pa moet werk sodat ek haar kan versorg.”

Ons besef as jy die Wêreldbeker wil wen, moet jy die bestes klop. Dit maak daarom nie saak of ons Nieu-Seeland nou of later speel nie.
Trevor Nyakane

Hy het Vrydagaand in Tokio aangekom nadat hy die afgelope week op sy eie in Pretoria geoefen het. Die Bok-spesialiste kon hom eers weer van gister af behandel.

“Met my terugkeer het ek aangevoel dat ons nou ’n toetsweek benader.

“Ons besef as jy die Wêreldbeker wil wen, moet jy die bestes klop. Dit maak daarom nie saak of ons Nieu-Seeland nou of later speel nie. Jy moet reg wees vir elke wedstryd. Jy moet elkeen soos ’n eindstryd benader.

“Ja, Suid-Afrika speel die week teen die All Blacks. Ja, dis ’n grote, maar ons gaan net soos in vorige weke deur die prosesse. Ons maak doodseker dat ons die beste moontlik voorbereid is op die uitdaging.”

Vincent Koch

Dis onseker tot wanneer Rassie Erasmus sy vaskopstut kans sal gee om sy fiksheid te bewys. Sou hy nie beskikbaar wees nie, sal die Bok-afrigter die ervare Vincent Koch betrek.

Nyakane beleef egter ’n goeie seisoen. Hy erken dit is grootliks te danke aan die feit dat hy vanjaar in al die Bulle se Superwedstryde gespeel het.

“My lyf voel goed. Rassie het ons hier en daar ’n week of twee af gegee. Ek kon teen die einde van die Superreeks voel dat my lyf moeg raak. Ek sal egter nooit kla oor my werk om rugby te speel nie. Ek is lief daarvoor en geniet dit.

“Ek dink dit het gehelp om in al die Superwedstryde te speel.

“Jy doen goeie ervaring op en kry goeie blootstelling deur in al die wedstryde te speel. Jy leer hoe om jouself uit moeilike posisies in wedstryde te kry.

“Jy leer vinnig wat om te doen en wat nie. Ek dink dit het baie gehelp. Dit was in my geval goed dat ek in al die Superwedstryde gespeel het. Ek weet hoe meer ek speel, hoe beter raak ek.”

Die oud-leerling van die Hoërskool Ben Vorster in Tzaneen gee nie om in watter rol Erasmus hom by die Wêreldbeker wil gebruik nie.

Ek gee egter nie om of ek begin of eers op die bank sit nie. Ek wil net ’n bydrae tot die span lewer.
Trevor Nyakane

“Almal in die span wil begin. Ek gee egter nie om of ek begin of eers op die bank sit nie. Ek wil net ’n bydrae tot die span lewer.

“Ek wil net hê die Bokke moet suksesvol wees.”

*Die Bokke sal Donderdag vanuit hul hotel in Tokio Bay na ’n hotel Jokohama skuif. Reën word vir Saterdag se toets in die stad voorspel.

Meer oor:  Vincent Koch  |  Trevor Nyakane  |  Jokohama  |  All Blacks  |  Wereldbekerrugby  |  Stut  |  Beseer  |  Sprinbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.