Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kriel verruil Gloucester vir Goudstad
Koning Leeu Jaco Kriel kom terug
Toutrekkery oor Dok Jannie

Jaco Kriel se kop staan terug Ellispark toe.

Die voormalige ramkat-flank van die Leeus is bestem om sy terugkeer tot Superrugby in die Leeu-trui te maak. Hy het hom in 2018 by die Engelse klubspan Gloucester aangesluit.

Die 30-jarige Kriel het volgens ’n onberispelike bron met die Leeus en Gloucester gepraat oor sy planne om sy loopbaan in ­Johannesburg te hervat.

Kriel hou die Curriebekeromhoog ná die 2015-eindstryd.

Die verwagtinge ná die sarsie onderhandelinge is dat Kriel deur Gloucester, waar die oud-Leeu-afrigter Johan Ackermann aan beheer van spansake is, toegelaat sal word om na Suid-Afrika terug te keer.

Kriel sukkel egter met ’n enkelbesering wat hy in Desember verlede jaar opgedoen het en dit is onseker of die Leeus hom voor Maart vir Superrugby sal kan oorweeg.

Maar die kanse is goed dat een van die Leeus se goue seuns en ’n voormalige kaptein binne die volgende maand of twee sy pad terug Ellispark toe sal kry.

Kriel was op sy beste ’n ster-speler by die Leeus voordat beserings sy loopbaan ’n ruk lank ontwrig het. Hy het in 11 toetse vir die Bokke gespeel en hom in 2016 as die voorste ses-flank in die land gevestig.

Beserings het egter verhinder dat sy loopbaan daar oorkant onder Ackermann enige werklike momentum kon kry. Hy het in 16 wedstryde vir Gloucester gespeel.

’n Skuif terug kan weer broodnodige nuwe lewe in sy loopbaan blaas. Hy kan selfs ’n belangrike leierskaprol by die Leeus gegee word.

Terselfdertyd veg die Leeus kliphard om Jannie du Plessis vir die Superreeks te behou.

Jannie du Plessis

Du Plessis se Franse klubspan, Montpellier, leen hom aan die Leeus, maar wil hom nou terughê omdat hulle ’n stutkrisis beleef.

Die 37-jarige Du Plessis geniet egter sy rugby by die Leeus en verkies glo om eerder in Johannesburg te bly. Dit sal ook minder ontwrigtend vir sy gesin wees.

Hy oefen al geruime tyd saam met die Leeus, waar hy met sy kondisionering beïndruk.

Du Plessis het ook goed in die Leeus se oefenwedstryd teen die Bulle vertoon.

Die toutrekkery tussen die Leeus en Montpellier volg ná die Franse klubspan se onverwagse probleme op vaskopstut.

Hul toetsstut Mohamed Haouas is in die Franse se Sesnasies-groep ingesluit.

Nog een van hul vaskoppe, Antoine Guillamon, is boonop in die 36ste minuut van Montpellier se onlangse wedstryd teen Gloucester beseer. Hy sal sowat twee maande nie oorweeg kan word nie.

Montpellier wil Du Plessis onder meer terughê aangesien sy gesprekke met Vincent Koch nog niks opgelewer het nie.

Die Leeus beskou Du Plessis vanweë sy ervaring en leierskap as ’n belangrike rat voorlangs. Veral omdat hulle in vanjaar se Superreeks sonder verskeie se­nior spelers soos Malcolm Marx, Kwagga Smith en Warren Whiteley moet klaarkom.

Sou Du Plessis geen ander keuse hê as om na Montpellier terug te keer nie, kan Cash van Rooyen, afrigter, sy plek by die Leeus met Carlü Sadie vul.

Sadie het verlede seisoen sy merk by die Leeus gemaak as ’n leenspeler van die Westelike Provinsie. Hy was uiteindelik een van die Leeus se sterre in die Superreeks.

Die WP het daarna versoek dat hy vir die Curriebekerreeks na die Kaap terugkeer, maar hy is nou op ’n heeltydse grondslag terug in Johannesburg.

’n Woordvoerder van die Leeus het by navraag gesê “ons onderhandel nog en kan niks bevestig nie.”

  • Saracens se binnesenter Brad Barritt is glo ook op die Leeus se radar.

Die Engelse klub gaan volgende seisoen na die tweede liga gerelegeer word weens herhaalde salarisperk-oortredings.

Meer oor:  Leeus  |  Jaco Kriel  |  Ellispark  |  Superrugby  |  Terugkeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.