Die kontrak-drama om Pieter-Steph du Toit, en nou ook Malcolm Marx, is nog nie verby nie.
In ’n nuwe wending betwis die Leeus dit of die Springbok-haker by magte was om sy kontrak met die unie ingevolge die veelbesproke 21-dag-klousule te kanselleer.
Die Westelike Provinsie Maatskappy is op sy beurt tot môremiddag gegee om aan Sareo – die rugbywerkgewersorganisasie – te bewys hy het nie die kollektiewe ooreenkoms oortree om die Bok-flank Du Toit in die land te hou nie.
In Marx se geval wil die Leeus onder meer duidelikheid hê of die 25-jarige Wêreldbeker-wenner ’n kontrak kon beëindig as die kontrak nog nie van toepassing is nie. Sy Leeu-kontrak tree eers op 1 Julie in werking en strek tot volgende jaar.
Marx het ook ’n nasionale kontrak met SA Rugby vir die tydperk.

Malcolm Marx tydens ’n Super-wedstryd vir die Leeus teen die Stormers. Foto: Deon Raath
Hy het vanjaar se Superreeks misgeloop omdat hy vir die Shining Arcs in die Japanse Topliga gespeel het. Dis onseker watter oorsese klubspan nou aan hom ’n aanbod gebied het wat hom laat besluit het om die 21-dag-klousule te gebruik om sy kontrak met die Leeus op te sê.
Die uitvoerende hoof van die Leeus, Rudolf Straeuli, wou nie gister kommentaar daarop lewer nie.
Die stof wil ook nog nie gaan lê oor hoe die WP daarin geslaag het om Du Toit te behou nie.
Sareo, waarvan die WP ’n lid is, het die afgelope week ’n ultimatum aan die WP gestel om te bewys hy het nie die kollektiewe ooreenkoms wat rugbyunies landwyd opgestel het, verbreek nie.
Die WP het daarin geslaag om Du Toit in Suid-Afrika te hou, maar Sareo wil nou presies weet wat hul ooreenkoms met die Bok-speler is, en of dit binne die kollektiewe ooreenkoms val, al dan nie.
Die WP is volgens die skrywe aanvanklik tot eergister tyd gegee, maar toe geen antwoord ontvang is nie, is die sperdatum tot môremiddag verleng.
As die WP nie by die kollektiewe ooreenkoms gehou het nie, sal ’n dispuut verklaar en arbitrasie voorgestel word.
Dit kan in die ergste scenario daartoe lei dat die WP geskors word uit Sareo, wat hul besparingsproses en salarisverminderinge tot niet sal maak.
Die kollektiewe ooreenkoms is deel van die omvattende besparingsplan wat in die rugbybedryf ingestel is om die Covid-19-pandemie se impak te verminder. Dit het salarisverminderings vir almal in die bedryf beteken, met ’n 21-dag-klousule waarmee spelers toegelaat is om uit hul kontrakte te kom.
Du Toit het op die nippertjie die sneller getrek en die klousule in werking gestel, maar toe vandeesweek sy besluit teruggetrek toe ’n ooreenkoms tussen hom en die WP bereik is. Sareo wil nou weet wat die ooreenkoms is, en hoe dit bereik is.
Zelt Marais, president van die WP, het gister ’n begrafnis bygewoon en kon nie in detail oor die kwessie praat nie.
“Ons direksie het egter ’n besluit geneem om die toekomstige verhouding met Sareo te oordink,” het Marais gesê.
Die bedryf is keelvol vir die WP en as hulle nie hulself gaan verbind tot die volle ooreenkoms nie, sal daar stappe wees.
Volgens die kollektiewe ooreenkoms mag geen huidige kontrakte herbeding word nie.
“As die bedoeling was om spelers toe te laat om hul kontrakte te herbeding en klein verstellings te maak, moes ons dit toegelaat het vir almal,” het een ingeligte aan Rapport gesê.
“Die bedoeling was nooit dat spelers moet kan heronderhandel nie. Die bedoeling was as spelers nie die salarisvermindering kan aanvaar nie, dan het hulle ’n geleentheid om die ander opsie te neem.
“Dit gaan nie oor Pieter-Steph nie; ons wil almal hê die Bokke moet in Suid-Afrika bly. Maar almal het ingestem tot die kollektiewe aksie en dus geld die reëls vir almal.
“Die bedryf is keelvol vir die WP en as hulle nie hulself gaan verbind tot die volle ooreenkoms nie, sal daar stappe wees.”
Daar word veral onder die ander unies gewonder of die WP ’n derde party aan boord gekry het om Du Toit in die Kaap te hou.
Die WP verwerp dié praatjies en volgens hulle het Du Toit net klousules beklink oor sy beeldregte, en sy reg om vir ’n oorsese kontrak ná die Britse en Ierse Leeus-toer te onderhandel.
Sy afrigter, John Dobson, het die afgelope week gesê Du Toit se salaris sal net soos enige ander speler s’n verminder word, wat in sy geval amper R3 miljoen op sy salaris van sowat R8 miljoen beteken.
Die WP het tot verlede week nog volgehou dat die 21-dag-klousule nie afdwingbaar is nie.