Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Loubser gryp kans aan in Bermuda

Die veelsydige agterspeler Andell Loubser is een van die voormalige spelers van die Southern Kings wat hard probeer om die beste van sy tyd in vandeesweek se Wêreld-tienmantoernooi in Bermuda te maak.

Andell Loubser toe hy nog vir die Kings gespeel het. Foto: Gallo Images

Volgens Braam van Straaten, afrigter van die Phoenix-span vir wie verskeie voormalige Kings speel, is die 23-jarige Loubser een van die uitblinkers.

Loubser, ’n aanvallende heelagter wat ook elders in die agterlyn ingespan kan word, soek nes verskeie van sy oudspanmaats nog ’n kontrak vir die komende seisoen ná die Kings se likwidasie.

“Ander oud-Kings wat regtig uitstaan, is Stefan Ungerer, Aaron Brody en Gareth Heidtmann. Stefan en Eddie Ludick het ongelukkig beserings opgedoen en ons hoop maar hulle sal Saterdag weer vir ons kan speel,” sê Van Straaten.

As Van Straaten se span Saterdag teen die Rhinos vasval, is dit die einde van hul pad in die toernooi, wat Sondag klaarmaak.

Volgens Van Straaten is die kans goed dat hy weer die groot en sterk vleuel Josiah Twum-Boafo op slot gaan gebruik.

Braam van Straaten geniet dit saam met sy Phoenix-span in Bermuda. Foto: Facebook

“Hy bring baie beweeglikheid aan ons voorspelers en hy is ’n sterk baldraer,” sê Van Straaten.

Volgens Van Straaten sal hy nog hierdie maand en in Desember voortgaan in sy rol as fondsinsamelaar vir die voormalige Kings-spelers, wat steeds sukkel om nuwe kontrakte elders te kry.

“Met ons eerste veiling (van rugby-aandenkings) het ons ongeveer R150 000 wins gemaak, wat ons onder 31 spelers en beamptes verdeel het. Dis nie baie geld wat elkeen gekry het nie, maar dit was darem iets,” sê Van Straaten.

“Ons sal nou nog ’n wynveiling, ’n gholfdag en nog ’n veiling (van rugby-aandenkings) hou om diegene te probeer help wat steeds nog nie op hul voete kon land nie.”

Van Straaten sê hy het gehoor die Oostelike Provinsie probeer ’n paar van die voormalige Kings kontrakteer vir die komende seisoen.

“Ek gee liewer nie my mening daaroor nie, maar as dit so gebeur dat van die ouens daar geholpe kan word, is dit ook goed so,” sê hy.

Meer oor:  Bermuda  |  Kings  |  Braam Van Straaten  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.