Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koorddans wag in Bloemfontein op WP

’n Curriebeker-koorddans is die Westelike Provinsie se voorland.

Chris van Zyl, die WP-kaptein, sal sy woorde versigtig moet kies as hy die span Saterdag tot ’n sege oor die Vrystaat-Cheetahs wil aanvuur. Foto: Gallo Images

As Chris van Zyl, die Streeptruie se kaptein, ’n spanpraatjie soos Al Pacino in Any Given Sunday uit sy hoed kan pluk, kan hulle dalk nog vir die halfeindronde van vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks kwalifiseer deur die Vrystaat-Cheetahs Saterdag in Bloemfontein te klop.

Aan die ander kant lê ’n dor landskap van ’n baie lang afseisoen, met die Stormers se eerste Superrugby-wedstryd wat eers in Februarie gespeel gaan word.

Wat gaan dit wees?

Van Zyl het vroeg vandeesweek al geweet wat hy vir sy span wil sê.

“Dis in lyn met wat Dobbo (die WP se afrigter, John Dobson) Dinsdag vir ons gesê het en dis dat ons veldtog nie só kan eindig nie. Ons móét baklei om in die wedloop te bly,” sê hy.

“Ek sal ook noem dat van die ouens op die spanlys die unie verlaat en ek baie goeie verhoudings met hulle het. Daardie ouens verdien beter as dat ons uitgeskakel word. Ek wil vir hulle nóg drie weke saam gee.

“Dít sal my boodskap wees. Om dit vir mekaar te doen.”

Dat selfs wen dalk nie genoeg gaan wees om die halfeindronde te haal nie – ander uitslae sal ook bepalend in die WP se lot wees – wys tot watter mate die Streeptruie vanjaar benede hul potensiaal gespeel het.

Daardie ouens verdien beter as dat ons uitgeskakel word. Ek wil vir hulle nóg drie weke saam gee.
Chris van Zyl

Die opwaartse kurwe wat nagestreef is sedert die eerste nederlaag teen die Haaie in Durban, het eerder in ’n bose kringloop ontaard.

“As jy jou potensiaal ken en benede dit speel, raak jy gefrustreerd en dis gevaarlik. Hierdie wedstryd is vir ons soos ’n kwarteindstryd en ons is met die rug teen die muur, wat ’n bietjie anders is. Dít maak ons gevaarlik,” sê Van Zyl.

Vir die WP kan die terugkeer van Wilco Louw en Scarra Ntubeni na die voorry bepalend wees.

Sonder die twee Bokke het dit verlede naweek teen Griekwas in die skrums broekskeur gegaan. Goeie skrumwerk het sinoniem met die Streeptruie geraak en sonder daardie gemaksone sukkel hulle.

Die Kapenaars moet egter Saterdag die pad doellyn toe ken en dít als kan afhang van tot watter mate die losskakel Damian Willemse daarin slaag om spel te skep en hoe hard buite-agterspelers soos Dillyn Leyds en Sergeal Petersen op die teenaanval kan slaan.

Dis ’n wedstryd wat die WP kan en behoort te wen, maar ’n mens sou vooraf dieselfde oor elk van sy nederlae gesê het.

Kapenaars sal dus maar min verwag in die hoop om aangenaam verras te word.

Die spanne is:

Vrystaat-Cheetahs: Clayton Blommetjies, Darren Adonis, Benhard Janse van Rensburg, William Small-Smith, Tian Meyer (k), Tian Schoeman, Ruan Pienaar, Henco Venter, Abongile Nonkontwana, Junior Pokomela, Walt Steenkamp, Sintu Manjezi, Boan Venter, Joseph Dweba, Hond van der Merwe. PLAASVERVANGERS: Jacques du Toit, Ox Nche, Aranos Coetzee, JP du Preez, Gerhard Olivier, Jasper Wiese, Dries Swanepoel, Louis Fouché.

Westelike Provinsie: Dillyn Leyds, Sergeal Petersen, Ruhan Nel, Rikus Pretorius, SP Marais, Damian Willemse, Justin Phillips, Sikhumbuzo Notshe, JD Schickerling, Ernst van Rhyn, Chris van Zyl (k), Salmaan Moerat, Wilco Louw, Scarra Ntubeni, Corné Fourie. PLAASVERVANGERS: Chad Solomon, Kwenzo Blose, Neethling Fouché, Nama Xaba, Juarno Augustus, Paul de Wet, Jean-Luc du Plessis, Seabelo Senatla.

Skeidsregter: Marius van der Westhuizen

Assistent-skeidsregters: Ruhan Meiring en Mpho Matsaung

TV-skeidsregter: JJ Wagner


Só het Al Pacino dit in Any Given Sunday gedoen:


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.