Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Korona laat Aplon aanhou speel

Gio Aplon het ’n ruk gelede gewonder of sy tyd in rugby verby is. Toe kom die Covid-19-inperking en hy besef hy durf die spel nie in ’n “lugleegte” los nie. Hy wou op ’n hoë noot afsluit, nog iets spesiaal bereik.

Gio Aplon vier ’n drie wat hy vir die Bokke by die Wêreldbeker-toernooi in 2011 teen Namibië gedruk het. Foto: Getty Images

Jake White se oproep aan Appels, soos hy ook bekend staan, was vir hom ’n kans om sy loopbaan op ’n hoogtepunt af te sluit – by White en by die Bulle.

White en Aplon het al lank ’n soort flirtasie as afrigter en speler.

“Ek en Jake het ’n baie goeie verhouding oor die jare opgebou. Min mense weet dit, maar toe hy by die Haaie was (as afrigter in 2013 en 2014) en ek by die Stormers, het hy my gevra om Durban toe te kom.

“Ek het daardie tyd gedink dis my laaste twee jaar by die Stormers, en ek was gelukkig in die Kaap en naby my familie,” het hy uit Nagoya in Japan aan Rapport gesê.

“Toe ek uit die Kaap na Grenoble in Frankryk is, het ek ook met hom gepraat om moontlik by Montpellier aan te sluit. Dit het nie uitgewerk nie. Dit was eers toe Jake Japan toe is en ek ook uit Frankryk na ’n Japanse klub toe is, dat ons bymekaar uitgekom het. Ek het vir die afgelope drie jaar onder hom gespeel.”

Aplon het gewonder of hy weer rugby sou speel toe die seisoen in Japan onderbreek is.

“Gaan ek wakker skrik en besef die droom is verby en dan aangaan met die lewe?

“Ek het gewik en geweeg oor wat my te doen staan, toe die seisoen kortgeknip is deur die uitbreking van die koronavirus. Dis net toe dat ek besluit het ek gaan nie dat die virus my loopbaan se einde bepaal nie. Ek sal. Ek was boonop vir ’n lang ruk in Japan beseer en het maar pas weer begin speel.

“Jy wil nie so klaarmaak nie. In my agterkop was daar nog ’n seisoen in Japan, maar toe kom die onderhandelinge met Jake. Hy het my gevra hoe ek voel om Curriebeker te speel. Ek het gelag en gesê ek het nooit daaraan gedink nie.

“Ek is 37, ek is gewoond aan die sagte tackles, nie daai harde fisieke goed daar onder nie. My vernaamste plan was om terug Kaap toe te gaan en tyd saam met my familie deur te bring.

“Nou het alles verander. Ek sal grotendeels weer die rol wat ek hier in Japan as ’n mentor vervul het, ook op Loftus vervul.”

Op 37 sien Aplon vir nog baie kans en hy glo hy het dit nog in hom om die vertroue wat White in hom stel, te beloon.

Ek is baie opgewonde om weer in Suid-Afrika te speel, al was dit nie oorspronklik my plan nie.

“Ons sal maar moet sien hoe dit gaan, maar ek sien uit daarna. Ek spot altyd dat ek Saterdae 24 jaar oud voel en Sondae ná ’n wedstryd voel ek 44 jaar oud.

“In die laaste twee jaar het ek weens al die onderbrekings (die Wêreldbekertoernooi en nou Covid-19) hier in Japan nie te veel rugby gespeel nie. Ek sien dit as ’n lekker uitdaging, en iets wat ek dag vir dag sal vat. ’n Mens wil nie grootpraat en sê jy gaan Loftus aan die brand speel nie. Mense sal sê jy praat groot, maar dis hoe ek voel.

“Ek is baie opgewonde om weer in Suid-Afrika te speel, al was dit nie oorspronklik my plan nie.”

Aplon weet hy is as speler sinoniem met die Kaap en die Stormers. Sommige Kaapse rugbymense meen hy verraai die Stormers deur vir die “vyand” te speel.

White en Aplon met die Japanse Top-liga-trofee.

“Daar is so ’n paar tannies wat my op sosiale media afgeskryf het. Een so ’n tannie van Gouritsmond is glad nie happy met my nie,” lag hy.

“Ek het nou die dag daaroor gewonder en met Lionel Cronjé daaroor gepraat. Maar soos hy sê: Jy kies nie rugby nie, rugby kies jou.

“As jy deur jou loopbaan gaan, is daar spelers wat selfs harder as jy gewerk het en selfs meer talent gehad het, maar met ’n bietjie geluk het jy dit gemaak.

“Rugby kies jou as ’n mens. Almal wil professionele rugby speel, maar net ’n klein handjievol is gelukkig om dit te kan doen. As ek nog in die Kaap was, was die Bulle nog die aartsvyand, maar nie meer nie. Ek was by Grenoble en toe in Japan.

“Vir my bly dit ’n voorreg om rugby te speel. Hulle sê mos dis ’n eer om die trui aan te trek, maar dis ’n voorreg om rugby te speel. Soms verwar ’n mens die voorreg met die eer. Daar is baie ouens wat vir enige span sal speel net om professionele rugby te kan speel.

“Soms dink ’n mens dalk jy sal nooit vir die of daai span wil speel nie, maar dan weer is rugby ’n voorreg. Jy speel waar jy kan.”

Rugby kies jou as ’n mens.

Maar een ding wat hy meen hy nie meer aan enigiemand hoef te bewys nie, is dat hy groot genoeg is vir groot rugby.

“In Suid-Afrika was dit heeltyd ’n gesukkel om te wys jy’s goed genoeg al is jy klein gebou. My hele loopbaan in Suid-Afrika moes ek my as speler bewys.”

Toe hy Frankryk toe is, het hy iets totaal anders ervaar.

“Ek hoef vir niemand daar te bewys het ek is goed genoeg nie. Daardie laaste ses jaar het baie vrede vir my gebring.

“Ek kan nou terugkyk en dink en glo dit was uiteindelik tog die moeite werd om so hard te gewerk het, maar ook om nie kwaad te geraak het vir mense wat bly sê het ek is te klein vir groot rugby nie.

“In Frankryk en Japan het ek daai waardering ervaar van wat jy doen en nie hoe jy lyk of hoe mense dink jy moet lyk nie.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Gio Aplon  |  Jake White  |  Bulle  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.