Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
'Korona-proefreëls verwarrend'

Twee voormalige Suid-Afrikaanse toetsskeidsregters is maar skepties oor Wêreldrugby se voorgestelde proefreëls, wat daarop gemik is om die oordragrisiko van Covid-19 op die speelveld te beperk.

Die Springbok-pak stuur ’n rolmaalbeweging van stapel in hul Wêreldbeker-kwarteindstryd teen Japan verlede jaar. As Wêreldrugby se voorgestelde Covid-19-proefreëls gebruik word, sal rolmale veel minder van ’n wapen vir spanne kan wees. Foto: Getty Images

André Watson en Freek Burger, albei ook oud-skeidsregterbestuurders van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), is egter positief oor die nuwe reëls vir die Kiwi’s se Aotearoa-reeks, wat verskil van Wêreldrugby se voorgestelde reëls.

Geen skrumhervattings en ’n “oranjekaart” vir gevaarlike duikslae tel onder die tien opsionele en tydelike proefreëls wat Wêreldrugby verlede week bekend gestel het. Bykomende spelers mag ook nie by rolmaalbewegings aansluit nie.

“Die proefreëls het ten doel om nabye kontak te verminder, maar rugby is ’n kontaksport,” sê Watson.

“Die ouens gaan steeds hul koppe teen mekaar hê. Jy het steeds rolmaalbewegings waar die ouens teen mekaar gaan wees. Nou mag mense wat buite was, nie meer aansluit nie. Ek kan nie sien hoe dit kan werk nie.”

André Watson behartig ’n Aussie-toets in 2004. Foto: Getty Images

Hy is wel net ’n “rugbyman, nie ’n dokter nie”, sê Watson. “Die mediese mense moet nou kyk of dit die verspreiding van Covid-19 kan help beperk.

“Uit ’n rugby-oogpunt, word ’n spel wat reeds baie moeilik is om te behartig, nou nog moeiliker met die proefreëls vir die koronavirus in die agterkop. Ek is nie ’n voorstander daarvan nie.”

Burger is dit met Watson eens dat kontak nou maar eenmaal deel van rugby is.

Die skrums is ’n gemors. Die skeidsregters het nie ’n idee wat daar aangaan nie.

“As jy kontak wil uitsluit, moet jy ’n heel ander spel skep. Dan moet jy raakrugby speel. Ons gaan Melkbos toe of ons gaan Stilbaai toe om te gaan touchies speel,” sê hy.

Hy is wel te vinde vir die reël dat skrums nie hervat sal word nie, maar dat ’n vryskop toegeken word as die skrum ineenstort sonder dat ’n span oortree het.

“Die skrums is ’n gemors. Die skeidsregters het nie ’n idee wat daar aangaan nie,” sê Burger.

Oor die oranjekaart sê Watson die verantwoordelikheid word nou net aangeskuif. Volgens dié proefreël, sal die skeidsregter liewer ’n oranje- as ’n rooikaart vir ’n speler wys wat ’n gevaarlike duikslag uitvoer. Die speler sal dan die veld verlaat, terwyl die TV-skeidsregter of uitwysbeampte die voorval hersien.

Moenie die span straf nie, straf die speler.

As dit as ’n duikslag beskou word wat ’n rooikaart regverdig, sal die speler nie terugkeer nie. As die kykweer wys die duikslag was net ’n geelkaart werd, kan die speler ná 15 minute in die koelkas terugkeer.

“Ek is ’n groot voorstander daarvan dat die skeidsregter ’n besluit op die veld moet neem en dat ons daarmee moet saamleef. ’n Oranjekaart maak dinge net vir my verwarrend. Ons moet die spel eenvoudiger eerder as moeiliker maak,” sê Watson.

Die oud-blaser Freek Burger dink die nuwe proefreëls oor skrums kan die spel baat, maar het sy bedenkinge oor die voorgestelde oranjekaart. Foto: Gallo Images

Burger is ook nie oortuig oor die wenslikheid van ’n oranjekaart nie, veral nie as die TV-skeidsregter die beslissing moet hersien nie: “Die skeidsregter roep in elk geval die hulp van die TV-skeidsregter in as hy sy besluit neem.”

Die Kiwi’s gaan ook ’n rooikaart-reël op die proef stel in hul plaaslike Superrugby-reeks wat op 13 Junie begin. ’n Speler wat ’n rooikaart kry, mag ná 20 minute deur ’n ander speler vervang word.

“Ek hou van Nieu-Seeland se planne, dis rugbybesluite,” sê Watson.

Burger is ook meer positief oor die Kiwi’s se rooikaart-plan.

“Ek sou dit ook aanbeveel. Baie afrigters sê hulle wil nie 15 spelers teen 14 hê nie. Moenie die span straf nie, straf die speler,” sê Burger.

In die Aotearoa-reeks sal daar ook nie gelykop-uitslae wees nie. As ’n wedstryd gelykop eindig, sal die eerste span wat in bykomende speeltyd van tien minute ’n skepdoel, strafdoel of drie behaal, wen. Dít sal as die “gouepunt-reël” bekend staan.

Burger dink dít is ’n blink plan.

“Daar behoort nie iets soos ’n gelykopuitslag te wees nie, kry ’n wenner. Ek is te vinde daarvoor,” sê Burger.

Meer oor:  Koronavirus  |  André Watson  |  Rugbyreëls  |  Wêreldrugby  |  Freek Burger  |  Aotearoa-Reeks  |  Covid-19  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.