Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koronavirus laat Blitse opsies oorweeg
Die Blitsbokke se Justin Geduld gaan straks die volgende twee toernooie misloop om sy werkslading te bestuur. Foto: Getty Images

Ná Wêreldrugby die afgelope week twee toernooie van sy sewesreeks uitgestel het weens die Covid-19-virus, is die Blitsbokke in gesprekke met ander lande om toernooie te reël om gereed te wees vir die Olimpiese Spele.

Die toernooie in Hongkong en Singapoer wat in April moes plaasvind, is uitgestel tot Oktober. Dit beteken dat daar ’n gaping van meer as tien weke is.

Dit is erg ontwrigtend vir spanne se voorbereiding vir die Spele wat op 27 Julie in Tokio, Japan, begin.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, sê die situasie krap hul planne vir die jaar deurmekaar.

“Net vier toernooie, of eintlik die twee in Londen en Parys (in Mei), gaan nie genoeg wees vir voorbereiding vir die Spele nie.

“Ons sal beslis moet kyk of ons nog êrens toernooie kan kry. So dit het nogal ’n groot verandering in ons beplanning vir die jaar gebring – amper of ons van vooraf ons planne moet maak,” sê hy.

Neil Powell, afrigter van die Blitsbokke, sê sy beplanning vir die jaar is omvergewerp. Foto: Gallo Images

Aangesien al die spanne hierdeur geraak word, word daar nou naarstigtelik gekyk of daar speeltyd in ander sewestoernooie in die wêreld gevind kan word.

’n Ander opsie is ook om toernooie te skep.

Daar word verneem dat Australië reeds die Blitsbokke genader het om daar te gaan speel, maar dat die versoek van die hand gewys is omdat dit te ver is en die tydsones soveel verskil.

Suid-Afrika sal na verwagting eerder saam met spanne soos Engeland, Wallis, Skotland en Kenia in toernooie in aksie wil wees.

Die skuif van die twee toernooie na Oktober gaan ’n rimpeleffek op die Blitsbokke hê, met die gevolge wat eers volgende seisoen gevoel gaan word.

Dit is omdat die nuwe seisoen (2020-’21) as gevolg daarvan basies vroeër as gewoonlik gaan begin.

“Dit skuif alles ’n bietjie vroeër. Dit gaan nie noodwendig hierdie seisoen so lank maak nie, maar eerder volgende seisoen. As ons Oktober klaar is, gaan daar so vyf weke wees voordat ons in Dubai en Kaapstad moet speel,” sê Powell.

“Baie van ons spelers (soos Stedman Gans en JC Pretorius) speel daardie tyd van die jaar vyftiens. Dit gaan beslis ’n uitdaging wees en sake moeilik maak.

“Ons sal seker die ouens bietjie aftyd gee. Waar ons daardie tyd (Oktober) altyd ’n voorseisoen gehad het, gaan ons vroeër moet begin om gereed te wees vir die toernooie,” sê Powell.

Hy het ook laat deurskemer dat spelers soos Chris Dry en Justin Geduld straks ’n ruskans gaan kry vir die volgende twee toernooie, in Amerika en Kanada.

Dit is om hul werkslading met die oog op die res van die seisoen te bestuur. Die toernooi in Los Angeles begin op 29 Februarie.

Meer oor:  Sewesrugby  |  Koronavirus  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.