Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Koronavirus ontwrig VS voor derby

’n Paar positiewe Covid-19-toetse, asook beserings, is die rede dat die Vrystaat-Cheetahs in hul eerste Curriebeker-rugbywedstryd teen Griekwas sonder ’n paar staatmakers is.

Hulle pak die Poubloues Saterdag in Kimberley in ’n buurstryd. Dis hul eerste wedstryd in vanjaar se reeks.

Die klompie positiewe toetse en beserings het meegebring dat 13 spelers vir die eerste keer in ’n Vrystaat-trui in die Curriebeker-reeks kan uitdraf.

Die span speel met sewe veranderinge aan die een wat vroeër in die oefenwedstryd teen Griekwas vasgeval het, met ses veranderinge onder die agttal.

“Ons het die afgelope twee weke ’n klompie positiewe gevalle gehad en ’n paar beserings. Ons moes vanoggend weer die hele groep laat toets voordat ons toegelaat is om Saterdag te kan speel. Gelukkig is almal wat deel was van die plan om te speel Saterdag, vanoggend negatief getoets,” het die afrigter, Hawies Fourie, gesê.

Die veelsydige slot Jean Droste word op flank ingespan. Foto: Gallo Images

Hy wou soos gebruiklik met spelers wat positief getoets is nie enige name noem nie, maar het wel genoem watter spelers weens beserings nie oorweeg kan word nie. Hulle is die senter Chris Smit (kuit), losvoorspelers Oupa Mohoje (kuit), Andisa Ntsila (dyspier) en Junior Pokomela (polsgewrig) en die vleuels Craig Barry, Malcolm Jaer en Marcell Muller, wat dyspierbeserings het. Die stut Conraad van Vuuren is nog geskors ná sy rooi kaart in die Toyota-uitdaagstryd.

Die veranderinge wat gemaak is, verswak die beginspan nie veel nie en van die spelers wat nou speelkans kry, kan trouens die gereelde spelers op hul tone hê wanneer hulle terugkeer.

Fourie het genoem dat hulle ten spyte van alles ’n baie goeie week van voorbereiding gehad het en dat hy baie positief is.

’n Gemors in die lynstane het Griekwas in staat gestel om die oefenwedstryd vroeër in Kimberley met 23-19 te wen.

Die Cheetahs het nou weens die ontwrigting vier slotte in die agttal, wat ook nie noodwendig ’n slegte ding is nie ná wat vroeër gebeur het nie. Twee van hulle – die veelsydige Jacques Potgieter en Jean Droste – gaan flank speel in die plekke van Aidon Davis en Andisa Ntsila.

“Dit bied ons ’n ekstra opsie in die lynstane nadat ons gesukkel het in die opwarmingswedstryde. Ek is seker ons sal die naweek beter in dié afdeling wees en goeie besit kry waarvan ons kan speel en hulle onder druk plaas,” het Fourie gesê.

Die jong Gideon van Wyk voltooi die lostrio as agtsteman in die plek van Jeandré Rudolph.

Rynier Bernardo en Victor Sekekete is die nuwe slotte in die plekke van Potgieter en Derik Pretorius.

Die stutte Aranos Coetzee en Cameron Dawson is die enigste twee spelers in die agttal wat in die vorige wedstryd ook in dié posisies gespeel het.

In die agterlyn is slegs een verandering. Die skrumskakel Tian Meyer speel linkervleuel in die plek van Cohen Jasper, wat ’n plaasvervanger is.

Die senter Evardi Boshoff is die enigste van die sewe nuut gekontrakteerde Varsitybeker-uitblinkers wat in die beginspan is wat nou sy buiging in die Premierliga van die Curriebeker-reeks gaan maak. Die Madibaz se agtsteman, Mihlali Mosi, David Brits, senter van die Maties, en Jasper, heelagter van die Ixias, kan as plaasvervangers hul buiging in die reeks maak.

Cheetahs: Clayton Blommetjies, Duncan Saal, Evardi Boshoff, Howard Mnisi, Tian Meyer, Reinhardt Fortuin, Ruan Pienaar (k), Gideon van Wyk, Jacques Potgieter, Jean Droste, Rynier Bernardo, Victor Sekekete, Aranos Coetzee, Wilmar Arnoldi, Cameron Dawson. PLAASVERVANGERS: Janus Venter, Aluluthu Tshakweni, Hencus van Wyk, Reinier Viljoen, Lohan Potgieter, Mihlali Mosi, David Brits, Cohen Jasper.


Meer oor:  Cheetahs  |  Vrystaat-Cheetahs  |  Curriebeker  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.